In die vorige blog het ek hopelik jou nuuskierigheid oor “sop en maerword” so ’n bietjie geprikkel.
Vandag gaan ek meer uitwei oor “warmte” en hoe sop ’n baie maklike manier is om “warmte” deel van jou eetpatroon te maak en so ’n bietjie vuur te stook onder jou metabolisme.
As dit koud is, soek jy warmte. Min mense raak in die winter regtig opgewonde oor ’n groot slaai. Maar sodra daardie bak stomende bredie, patat of poeding uit die oond kom, is daar min keer!
Ongelukkig is tipiese “winterkos” dikwels maar styselrig. En as jy nou reeds insulienweerstandig is of sukkel met ’n vetrolletjie om die middel, is te veel koolhidrate mos iets wat jy moet vermy.
Die goeie nuus is gelukkig dat jy met die slim gebruik van spesifieke kruie jou liggaam se respons op voedsel kan manipuleer – ek praat hier van hoe insulien afgeskei word en hoe goed jou lyf die bloedsuikerbalans ná die ete kan behou.
Eers iets meer oor insulien: Dis ’n hormoon in jou lyf wat moet sorg dat jy die koolhidrate van kos kan gebruik. Maar dit word ook afgeskei as jou lyf sy eie suiker produseer soos en wanneer nodig, byvoorbeeld wanneer jy bant. Te veel insulien en ’n “blokkasie” in die werking daarvan word “insulienweerstandigheid” genoem. Dié toestand is dikwels ’n voorloper vir diabetes. Natuurlik kan jy ook daarop staatmaak dat gewigverlies byna onmoontlik is as insulienvlakke in jou lyf te hoog is (weens voorgenoemde redes). Maar onthou net: Daar is altyd bietjie insulien betrokke by ’n proses iewers in jou lyf en daar bestaan nie iets soos zero insulien nie.
Maar om terug te keer na die slim kos.
Navorsers in Australië het gaan kyk wat met die metabolisme gebeur as mense brandrissie (chilli) eet. Hulle sien toe dat die insulienvlakke ná ’n maaltyd met brandrissie laer was as ná ’n maaltyd daarsonder, én die liggaam se weerstandigheid om insulien effektief te kan gebruik was beter – m.a.w. hierdie mense se insuliensensitiweit het verbeter. Dít is natuurlik altyd goeie nuus vir gewigbeheer!
Maar hulle het ook besef dat dit nogal moeilik is om aanmekaar brandrissie te eet. Gelukkig wys ’n baie groot studie in China dat jy nie elke dag die rissie hoef te eet vir dié resultaat nie, maar net gereeld. Soos met alle gesonde gewoontes is dit dus eerder gereeld bietjies-bietjies wat ’n verskil kan maak, en nie ’n hele hoop op een slag nie.
As dit jou missie is om nou deur hierdie winter te kom en later vanjaar steeds in jou somerklere te pas, is dit ’n goeie plan om jou brandrissie-inname op te stoot. En sop is ’n maklike en heerlike manier om dit te doen!
Dis geensins nodig om dit onmoontlik sterk te maak nie. Selfs ’n lekker brandrissie-suurlemoenskil-pietersielie-garnering by ’n broccoli-sop of hoender-ui-en mielieroomsop is genoeg.
Kry die heerlike resep hier.
Dit is natuurlik nie al voordeel wat ’n spesery soos brandrissie het nie – maar meer hieroor en oor ander speserye in jou sop volgende keer.
Wil jy graag meer weet? Like my op Facebook/bettereat en ook by Twitter/BetterEat en volg my elke dag se betereet lekker inspirasie by Instagram bettereat.betereet.
Groete,
Mariza
– Geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl. In haar nuwe boek, Dik vir dieet (Naledi, R245), beantwoord sy onder meer vrae wat sy gereeld hoor.
The post Maak vuur onder jou metabolisme appeared first on SARIE.