Quantcast
Channel: Gesond – SARIE
Viewing all articles
Browse latest Browse all 219

Omdat ons omgee

$
0
0

Om ’n kankerlyer te versorg is soms moeiliker as om self met die siekte gediagnoseer te word omdat daar so baie emosies is en jy so magteloos voel. Twee ervare kanker-versorgers vertel hoe hulle staande bly. 

Wanneer iemand na aan jou met kanker gediagnoseer word, beïnvloed dit jou lewe net soveel as hulle s’n. Selfs al is die diagnose nie jou eie nie, ry jou emosies ook wild wipplank.

“Jy voel hulpeloos en onseker oor wat jy volgende moet doen. Om iemand wat vir jou kosbaar is te sien swaarkry, is moeilik en traumaties,” sê Linda Greeff, bestuurder van Welsyndienste by GVI Oncology. “Onthou dat jy deel is van die pasiënt se ondersteuningsnetwerk. Miskien wys hy of sy dit nie altyd so mooi nie, maar jy kan seker wees die pasiënt waardeer wat jy doen.”

Saam in die ding

Linda sê ’n kanker-diagnose kan bitter moeilik wees, veral aanvanklik. “Ek het al baie gevalle gesien waar die diagnose geheel en al oorweldigend is. Dis wanneer jy eenvoudig moet uitreik en vra vir professionele hulp; jy hoef dit nie alleen te doen nie. Daar is talle van ons wat gereed staan om te help – welsynwerkers wat spesialiseer in onkologie, onkologie-verpleegsters, dokters, sielkundiges – multidissiplinêre spanne wat daar is om die pasiënt sowel as ondersteuners en versorgers by te staan. Maak gebruik van hierdie hulpbronne. Dit sal jou en die pasiënt se lewe makliker maak. Ons doen almal saam hierdie ding – dis belangrik dat jy dit weet en daarop fokus.”

Wees prakties

Linda het al baie pasiënte, ondersteuners en versorgers vergesel op hul kankerpad. Sy sê een van die belangrikste lesse wat sy keer op keer leer is dat jy prakties moet wees. Haar beste raad sluit in:

  • Gaan saam na doktersafsprake. Twee paar ore is beter as een.
  • Stel ’n lys van vrae op voor julle die dokter sien. Sodoende kry julle die heel beste waarde uit elke afspraak. Gaan drink ná die tyd ’n koppie tee en werk dan saam deur alles wat gesê is om mekaar te help onthou en om beter te verstaan wat aangaan.
  • Klein goedjies maak die wêreld se verskil, soos om by iemand te sit terwyl hulle behandeling ontvang.
  • Laat ander toe om jou te help met kosmaak, huis skoonmaak, kinders optel of aflaai, troeteldiere kosgee of kosinkopies doen. Werk ’n skedule uit wat soveel moontlik mense insluit. Hulle is almal deel van jou ondersteuningsnetwerk.

Huil sommer ordentlik

Dis alles goed en wel om prakties te wees, maar wat van die versorger of ondersteuner se geestelike en emosionele welstand?

Grace, wat gevra het dat ons nie haar regte naam gebruik nie, is al vir 10 jaar ’n chemo-suster by ’n privaat onkologie-eenheid. Sy moes twee jaar gelede ophou werk omdat sy geheel en al uitgebrand het. Sy sê: “Dis glad nie ongewoon in die onkologie-veld nie; die werk wat ons doen is moeilik. Gedurende die dag behandel ek miskien ’n jongman wat ‘n skaars skildklier-kanker het en dan gaan ek saans huis toe na my seun toe, wat presies dieselfde ouderdom is. Dis moeilik. Hoe los jy eenvoudig jou werk by die werk? Om ’n versorger te wees, veral ’n goeie een, het jy armsvol empatie nodig. Maar dis daardie einste empatie wat jou emosioneel kan pootjie.”

Linda stem saam dat dit moeilik is. Sy sê versorgers en ondersteuners kan hulself ’n groot guns bewys deur ’n veilige plek te skep waar ervaringe gedeel en gevoelens bespreek kan word oor dié dinge waarmee hulle sukkel. “Jy moet plek maak vir jou eie emosies. Asseblief, jy hoef nie heeltyd sterk te wees nie! Deur voor te gee jy is, beteken jy is oneerlik met jouself en met die pasiënt en hy of sy gaan dit agterkom. Huil eerder saam. Trane maak kragtige emosies los, dit help met gesond word en dit verlig spanning in sowel die liggaam as die immuunstelsel. As julle klaar gehuil het, vee die trane af en gaan weer aan. Stel klein, bereikbare doelwitte. Dís hoe jy aanhou vorentoe beweeg.”

Grace sê ook huil is goed: “Jy huil saam met die pasiënt as die toetsuitslae nie na wense is nie. Maar jy leer ook lag ten spyte van die swaarkry. Dit sluit in aardighede soos valstande wat in die middel van ’n sin op die vloer beland omdat die pasiënt soveel gewig verloor het tydens behandeling. Dan tel jy maar daai tande op, was hulle mooi en sit hulle terug. Julle lag lekker en dan gaan julle aan – tesame.”

Daar moet grense wees

Grace werk nou weer met kankerlyers, maar nie meer as ’n chemo-suster nie. “Ek’t geleer daar moet grense in my lewe wees. Gevolglik aanvaar ek nou ‘n meer hanteerbare werklading en probeer ek nie meer om alles self te doen nie. By die huis maak ek ’n punt daarvan om een keer ’n week Pilates te doen en ander dae gaan stap ek met die hond. Ek eet gesond, ek slaap genoeg ensovoort. Met ander woorde, ek probeer die ‘basics’ goed doen. Dit help baie.”

Sy moes ook leer om met haarself streng te wees oor emosionele en sielkundige grense. “Ek moes laat gaan. Ek kon nie meer vir alles en almal verantwoordelikheid aanvaar nie. Ek het besef dat ek nie meer my verantwoordelikheid teenoor myself nakom nie en dit was eenvoudig nie die moeite werd nie. Dit was ’n denkpatroon wat in my eie kop moes verander en dit was moeilik.”

IS MANS GOEIE VERSORGERS?

Natuurlik! Dis ’n fout om te dink net vroue is goeie versorgers. Dié barmhartige Samaritane kan van enige plek af kom, hulle kan enige ouderdom wees, enige ras, geslag of kulturele agtergrond hê. Mans wat as versorgers optree, stuur ’n kragtige boodskap uit wat sê dat dit nie ’n teken van swakheid is as ’n mens hulpvaardig, empaties en vol deernis is nie.

Dit maak sin vir mans om sterk, positiewe rolmodelle te wees, want dit help met die afbreek van problematiese stereotipes wat druk sit op jong seuns om “sterk manne” te word wat nooit ’n traan stort nie. Deernisvolle manlike versorgers dra by tot die ontwikkeling van ander en deur hierdie waardes uit te leef maak hulle ’n positiewe bydra tot die samelewing. Mans en vroue lewer verskillende bydraes, net soos mense van verskillende kulture elk iets unieks bring tot hierdie belangrike werk.

Ken jy ’n inspirerende persoon wat ’n kankerlyer versorg? Deel hul storie en inspireer ander #StrongerTogether

Deel jou storie of iemand wat jy ken se storie HIER

In tye van nood kan hulp en ondersteuning soms uit onverwagse bronne kom. Lees verder vir meer oor die 1Life All Woman-polis, spesiaal ontwerp om vroue en hul kinders by te staan onder sulke omstandighede.

Vrywaring

Die opinies en ervaringe wat deur die individue in hierdie persoonlike vertellings gedeel word, is geensins daarop gemik om enige produk of diens te bemark of te ondersteun nie – nie kommersieel, in die kleinhandel of andersins nie.

 

The post Omdat ons omgee appeared first on SARIE.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 219

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!