’n Daaglikse porsie peulgroente kan jou gewig laat afskud, volgens ’n studie in die American Journal of Clinical Nutrition. Dis nou gedroogde ertjies, lensies en keker-ertjies (chickpeas).
Nie net laat dit jou gouer versadig voel nie, dis ook cholesterol- en glutenvry, het baie vesel en help om jou bloedsuikervlakke stabiel te hou. Dit het per gram ’n hoë konsentrasie voedingstowwe terwyl dit laag in kJ is.
En dis boonop omgewingsvriendelik. Peule herstel die hoeveelheid stikstof in die grond, wat dit meer vrugbaar maak. Dit hoef dus nie kunsmatig by voedselgewasse gevoeg te word nie.
Só gewild is die nederige peul deesdae dat die Verenigde Nasies 2016 verklaar het tot die Internasionale Jaar van Peulgroente.
Idees vir peuselhappies, volgens die Suid-Afrikaanse Dieetkundige Vereniging:
*Dreineer ’n blikkie keker-ertjies, sit in ’n braaipan met olyfolie, paprika, swartpeper en komyn. Rooster sowat 40 minute. Eet of bêre in lugdigte houer.
*Maak lekker doopsouse met peule. Maak fyn en meng met knoffel, kruie en speserye.
Wenk: Jy kan lensies sommer saam met bruinrys, pêrelgort (pearl barley) of gebreekte koring (crushed wheat) kook.
Barbara se vinnige hoemoes
(4 – 6 porsies)
• 2 blikke (420 g elk) keker-ertjies, gedreineer
• sap van 1 suurlemoen
• 6 knoffelhuisies, fyngekap
• 150 ml warm water
• 60 ml olyfolie
• sout na smaak
Vir bo-op
• olyfolie
• paprika
Kap keker-ertjies fyn in voedselverwerker. Voeg suurlemoensap, knoffel, water en olyfolie by. Meng tot gladde pasta. Geur met sout. Gooi in bakkie en sit vir sowat 1 uur in yskas. Sprinkel ’n klein bietjie olyfolie en paprika oor.
*Dis nasionale voedingsweek.
Lees nou
Kan jy die ballerina tussen die flaminke vind?
The post Peule bo – ook vir gewigsverlies appeared first on SARIE.