Ontmoet die derde groep wat benoem is in die #StrongerTogether-veldtog vir kankerbewustheid.
Meg Frizelle, Durban
Meg benoem haar seun, Rorke (5)
“My seun was maar net twee toe Ewing se sarkoom by hom gediagnoseer is. Toe was daar ook tekens dat dit na sy beenmurg versprei het. Sy prognose het geval van 80% na 20% kans op herstel. Vandag, 13 chemosessies en meer as 100 hospitaaldae later, is hy twee jaar lank al skoon!”
Frieda Muller, Pretoria
Frieda benoem haar kleinseun, Maritz Watkins (4)
“Limfoblastiese leukemie is by my kleinseun gediagnoseer toe hy 16 maande oud was. Sedertdien kyk ek weekdae na hom. Ek’s sy ouma, sy onderwyser, sy vriendin en sy rugby ‘buddy’. Op sy beurt is hy my held!”
Deniel Cornelissen, Kraaifontein
Deniel benoem haar suster, Oveda Julies
“Borskanker is in 2012 by my suster ontdek en sy het ’n mastektomie ondergaan. Binne ’n jaar het die kanker na haar skelet versprei. Ná radioterapie is sy wonderbaarlik weer terug werk toe met ’n groot glimlag – kaalkop en al! Sy het voortdurend pyn, maar sy bly ons inspirasie.”
Elfrieda Lotter van den Berg, Bloemfontein
Elfrieda benoem haar skoonsuster, Tracy van den Berg
“My skoonsuster was 44 toe borskanker by haar gediagnoseer is. Sy is getroud met my broer, Pieter, en hy aanbid die grond waarop sy loop. Hulle het drie tienerdogters. Tracy was nog altyd ’n wonderlike mens, maar my respek vir haar het tienvoudig toegeneem noudat ek sien hoe sy dié siekte hanteer.”
Marinda Louw Coetzee, Bo-Kaap, Kaapstad
Marinda benoem haarself
“Vyf maande ná my troue in 2014 moes ek hoor dat ek borskanker het. Ek het baat gevind by buitengewone behandelings en op onverwagte plekke – die bestuurder by die supermark, die barbier wat my kop vir my geskeer het. Kanker is tegelykertyd aaklig en ongelooflik.”
Rika Stuart, Johannesburg
Rika benoem haarself
“In 2008 het my lewe onherroeplik verander toe borskanker op die ouderdom van 33 by my gediagnoseer is. Ek het toe twee klein dogtertjies gehad. Teen 2012 het die kanker versprei na my lewer en die prognose was nie goed nie. Maar hier is ek nog steeds – met baie om voor te leef!”
Magda Mynhardt
Magda benoem haarself
“Daar is geen borskanker in my familie nie. Ek was dus geskok toe dit kort ná my skoonpa se dood by my gediagnoseer is – ek onthou nog ek het die nuus gekry op pad na sy begrafnis toe. Ek het sedertdien ’n dubbele mastektomie gehad en is nou in remissie. Ek wil 2015 nooit weer oorhê nie, maar my kankerpad het beslis ons familie nader aan mekaar gebring.”
Emelia Victor
Emelia benoem haarself
“’n Melanoom is in 2012 by my gediagnoseer, in 2013 het ek borskanker gekry, en in 2014 is ek kankervry verklaar. In 2015 het die borskanker teruggekom. Ek is ’n 49-jarige vrou met ’n gesin – ek kan nie net aan myself dink nie. Kanker hou jou op jou knieë en jou familie en vriende dra jou.”
Dalene Beckmann, Centurion
Dalene benoem haarself
“In 1990, twee dae ná my derde kind se geboorte, is Hodgkin se limfoom by my gediagnoseer. Ek’t ’n vyfjarige dogtertjie, ’n tweejarige seun en ’n pasgebore baba gehad, plus kanker in ’n gevorderde stadium. Ek was baie siek. Maar ná twee jaar van chemo was ek weer gesond. Vandag kan ek my kleinkinders sien grootword terwyl ek destyds gedink het ek sal nie eers my eie kinders kan grootmaak nie.”
Susan Myburgh, Oudtshoorn
Susan benoem haar man, Johan
“Byna agt jaar gelede is kanker van die eierstokke by my gediagnoseer. Sedertdien het die kanker versprei en ek was nog nooit weer behandelingvry nie. Deur dit alles het my ongelooflike man na my omgesien en verantwoordelikheid gevat vir elke klein detail.”
Leona Meyer, Bellville
Leona benoem haar skoonsuster, Hester Hayes
“Pankreatiese kanker het nie ’n goeie prognose nie – gewoonlik ses tot 12 maande in die meeste gevalle. Maar my skoonsuster het in remissie gegaan ná drie groot operasies. Sy is een-uit-’n-miljoen en doen selfs liefdadigheidswerk. Sy is ’n inspirasie vir elkeen wat oor haar pad kom.”
Ontmoet die eerste groep wat benoem is HIER
The post Ons is sterker saam – Deel 3 #StrongerTogether appeared first on SARIE.