Doen dié 5 maklike dinge om dadelik die gesondheidsvoordele te ervaar.
1. Los die gaskoeldrank
Wetenskaplikes is dit eens dat koeldrank bo-aan die lys is van dinge wat jou gewig laat aansit. Dit bevat sogenaamde “leë energie”, dus net kilojoules (kJ), en geen voedingstowwe nie.
Het jy geweet? Daar is 9 teelepels suiker in ’n blikkie (sowat 340 ml) versoete koeldrank
Probeer eerder een van dié gesonder drankies
2. Eet iets groen
Jy gaan dit dalk nie regkry om jou dieet drasties te verander nie. Maar probeer om minstens een groen groentesoort soos spinasie of broccoli by jou aand of middagete te voeg. Groen groentes bevat luteïen, wat goed is vir jou oë. En dit verminder jou risiko vir verskeie kankersoorte.
3. Lag meer
Lag diep uit jou maag en jou liggaam stel endorfiene, die brein se goedvoel-chemikalieë, vry. Jy voel dan gelukkiger en meer ontspanne, wys Amerikaanse navorsing. As jy net 15 minute lank saam met ander mense na ’n komedie kyk, verhoog jou pyndrempel met sowat 10%.
4. Beweeg
Studies suggereer as jy deur die dag meer beweeg, kan dit jou help om jou doelgewig vinniger te bereik. Mik na 150 minute ’n week. As jou leefstyl nie lang oefensessies toelaat nie, oefen meer gereeld vir kort tye. Klim trappe, staan meer uit jou stoel op en parkeer ver van jou bestemming af.
5. Sweet deur TV-advertensies
Doen opstote en hurke tydens minstens een advertensie-onderbreking per TV-sessie. Dit klink dalk nie baie nie, maar kan tog jou spiere sterker maak. Oefen met ligte gewigte om spiermassa te bou. Behalwe dat dit jou arms mooi ferm maak, verbrand spiermassa ook meer energie (kJ).
*Die artikel is in SARIE Januarie 2014 gepubliseer.
The post 5 dinge wat jy kan doen om dadelik gesonder te wees appeared first on SARIE.