Quantcast
Channel: Gesond – SARIE
Viewing all 219 articles
Browse latest View live

Siekte van die 21ste eeu?

$
0
0

Moeg, gedaan, klaar, op? Wie vandag is nié? Bynier-uitputting versamel ’n klomp uiteenlopende simptome onder een sambreel. Dalk herken jy jouself.

Voel jy soos ’n kortgebakerde zombie? Net so móég? Jou simptome is so wyd soos die hemeltrans. Lighoofdigheid as jy regop kom, sonder ’n seksdrang en jou konsentrasie is swak. Jy crave sout/soet en jou spysvertering protesteer. Smiddae verloor jy stoom, maar kry ’n tweede asem laataand. Dan kom jy nie in die bed nie. En hoeveel keer het jy vanjaar verkoue of ’n lastige hoesie gehad?

Dit hou oënskynlik nie met mekaar verband nie. Maar klink dit bekend, het jy dalk wat al die 21ste eeu se siekte genoem is. Bynier-uitputting.

Niere se keppie

Jou byniere is kliere so groot soos okkerneute en sit net bokant jou niere. Dis verantwoordelik vir jou liggaam se reaksie op stres (fisiek óf emosioneel) deur die afskeiding van hormone (hoofsaaklik kortisol, adrenalien en noradrenalien). Só skei dit in tye van ekstreme stres kortisol af sodat jy optimaal kan funksioneer. Behalwe streshormone skei die byniere sowat 50 ander hormone af, onder meer testosteroon, estrogeen en progesteroon.

FOTO Unsplash / Agnieszka P

FOTO Unsplash / Agnieszka P

Wat moet jy doen as jy vermoed jy ly aan bynier-uitputting?

Dr. Grant Fourie, mediese dokter van Kaapstad wat in funksionele medisyne spesialiseer, gee wenke.

1. Oorweeg laboratoriumtoetse

Soos ’n 24-uur-bynier-stres-indeks, ’n speekseltoets wat onder meer jou kortisol- en ander hormoonvlakke deur die dag/nag meet. (Jy self neem die monster en ’n laboratorium toets dit.) Volgens dr. Pierre van der Walt, chemiese patoloog van Pretoria, is bloedtoetse ook doeltreffend. Die tyd wanneer die bloed getrek word, is egter belangrik. Kortisolvlakke moet soggens teen agtuur gemeet word en weer twaalfuur snags. (Laasgenoemde is ’n speekselmonster.)

2. Identifiseer chroniese stressors

Dit kan insluit van kos-intoleransie en emosionele stres tot oormatige oefening en outo-immuunsiektes. Die snellers kan dus wyd wees.

3. Haal asem!

Maak deur die dag tyd daarvoor: Raak bewus van jou asemhaling, ’n goeie manier om jou brein-bynierkommunikasie te kalmeer. Beoefen mindfulness- (wees-in-die-oomblik-) tegnieke.

4. Doen joga of tai chi

’n Uitstekende manier om meer balans in jou lewe te bring.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

5. Probeer natuurlike medisyne

Wat vir jou werk, help nie noodwendig vir jou vriendin nie.

Hier is ’n paar algemene natuurlike medisynes.

– Adaptogeniese kruie soos Ashwagandha, Rhodiola rosea, heilige basilie en Eleuthero (Siberiese ginseng). (Dis-Chem of gesondheidswinkels.)

– Magnesium: Die oorspronklike chill-pil. Dit ondersteun die byniere, ontspan gespanne spiere en senuwees en help vir goeie slaap.

– GABA-ondersteuning: GABA (gamma-aminobottersuur), ’n brein-oordragstof betrokke by die maak van endorfiene (natuurlike pyndoders wat jou goed laat voel).

– Aanvullings/kruie: Inositol, B-vitamiene, lesitien, melatonien, valeriaan, grenadellablom, glutamien. Theanien (in groentee) is ’n voorloper en laat jou ontspan. (Dis-Chem en gesondheidswinkels.)

6. Slaap genoeg

Pas gesonde “slaaphigiëne” toe (verban die TV/selfoon uit jou slaapkamer, volg ’n ontspanne slaaptyd-roetine, ens.)

7. Vermy stimulante

Soos kafeïen. (Altyd, nie net saans nie.)

8. Hormoon-aanvullings

Klein hoeveelhede DHEA (’n voorloper van testosteroon en estrogeen) en pregnenoloon, ’n voorloper van kortisol, kan jou byniere ondersteun. Besoek ’n dokter met kennis van bynier-uitputting.

Die volledige artikel het in SARIE se April 2017-uitgawe verskyn. Koop dit hier.

Lees nou

Dís wat stres aan jou doen

5 maniere om dadelik gelukkiger te raak – wetenskaplik bewys!

Die 10 gelukkigste lande is …

The post Siekte van die 21ste eeu? appeared first on SARIE.


Kry jou griepinspuiting nou

$
0
0

Hoe vroeër hoe beter, aangesien dit 10-12 dae kan duur om jou immuunstelsel paraat te maak, volgens Waheed Abdurahman, apteker by Clicks. Mis jy egter die vensterperiode kan jy dit nog enige tyd die winter kry.

Griep is ’n virusinfeksie wat jou op die heel minste in die bed kan laat beland met koors, grille en pyne. En op die ergste komplikasies soos longontsteking.

Die griepinspuiting word jaarliks deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) aangepas en sluit van die seisoen se gevaarlikste griepstamme in.

Almal kan dit kry, behalwe babas jonger as ses maande, indien jy reeds koors het, as jy in die verlede negatief daarop gereageer het of ’n allergie vir eiers het.

Nog wenke vir ’n griepvrye winter, volgens Waheed:

• Was jou hande gereeld met seep – en nies/hoes liefs in ’n sneesdoekie.

• Leef/eet gesond – Dit maak jou immuniteit sterker, gereed om die virus te beveg.

• Voorsorg is beter – Probeer mense vermy wat siek is en moenie persoonlike items deel nie. Wees versigtig vir skares, want jou kans op blootstelling aan die virus is dan hoër.

* Jy kan jou by Clicks-klinieke teen R71.90 laat inspuit teen griep. Mediese fondse betaal dikwels daarvoor. Maak ’n afspraak by jou naaste Clicks-kliniek. Kontak 0860 254 257 of besoek www.clicks.co.za.

The post Kry jou griepinspuiting nou appeared first on SARIE.

5 oorsake van hoofpyn

$
0
0

Van seks tot jou baas, hier is van die verrassende oorsake vir jou hoofpyn. En wat jy daaraan kan doen.

1. Boeretroos

Nog ’n koffie of koladrankie? As jy baie hoofpyn kry, is te veel kafeïen dalk die rede. Verminder dit egter geleidelik. Indien jy dit sommer net los, kan dit dinge vererger, want kafeïenonttrekking is ook ’n hoofpyn-sneller. Kyk ook of jou hoofpynmedikasie nie kafeïen bevat nie. Raar maar waar.

2. Jy slaan maaltye oor

Die verband is nie altyd so ooglopend nie. Jou kop kan begin klop voor jy besef jy is honger. Dis waarskynlik omdat jou bloedsuiker daal. Moenie dit met lekkergoed probeer besweer nie, jou bloedsuiker gaan dan net verder amok maak. Eet gereeld en hou ’n peuselhappie byderhand, soos neute of biltong.

3. Die groot O

In ’n opname het 46% van gereelde hoofpynlyers gesê seks is ’n sneller. Dis ’n teken dat jy jouself lekker ooreis het. Drawwers en gewigoptellers kry dit ook soms.’n Dowwe pyn kan tydens voorspel opbou. Of dit kan skielik rondom jou orgasme gebeur (laasgenoemde meer dikwels by mans). Dit is gewoonlik onskadelik en reageer goed op gewone hoofpynmedikasie

4. Die baas

Enigiets wat jou stresvlakke opjaag, kan jou meer vatbaar vir spanningshoofpyn of migraine maak. Dokters weet nie mooi hoe dit gebeur nie. Baie dinge kan betrokke wees, onder meer sekere senuwees in die brein wat pynboodskappe oordra en ekstra sensitief kan wees. Oefening is ’n wonderlike teenvoeter vir stres.

5. Slordige houding

Hang jou skouers, sit jy op ’n stoel sonder ondersteuning vir jou lae rug, of staar jy na ’n rekenaarskerm wat te hoog of laag is? As jy soos ’n vraagteken lyk wanneer jy sit of staan, kan spanning in jou kop- en nekspiere opbou. Trek jou skouers terug, maag in en bene reguit. Hou jou kop regop en laat jou ken effens sak.

FOTO: Pixabay

FOTO: Pixabay

Lees nou

10 goed wat 10 word die jaar

Wilna Adriaanse se karakters stel nie teleur nie

Siekte van die 21ste eeu?

The post 5 oorsake van hoofpyn appeared first on SARIE.

Onthou die noodhulpkissie!

$
0
0

Jy wil nie daaraan dink nie, maar duisende kinders sterf jaarliks weens ongelukke soos verdrinking, brand, vergiftiging en die val van ’n stapelbed, dak of met rolskaatse.

Plaaslik sluit die algemeenste noodhulp-gevalle in snyplekke en skeurwonde, chemikalieë of vreemde voorwerpe in die oog, vreemde voorwerpe in vingers en voete, spierverrekkings of -verstuitings, krampe, vergiftiging en asma-aanvalle, sê Linda Buys, verpleegster en noodhulpkenner, op health24.com.

Die belangrikste items om in jou noodhulpkissie te hê, volgens Arrive Alive-paramedici, is middels om brandwonde, breuke, snye en kneusplekke mee te behandel. Ook beenspalke, pleisters, ’n skêr, haartangetjie, mediese handskoene vir jou eie veiligheid, salf vir byt- en steekplekke en ontsmettingsmiddel hoort in jou noodhulpkissie. 

first-aid-kit-62643_1280

FOTO Pixabay

Nuttige noodhulpwenke:

– Maak seker jou noodhulpkissie het genoeg van alles en dat die middels nie verval het nie.

– Sluit dit en hou dit op ’n koel, droë plek buite bereik van kinders.

– Maak seker die hele gesin en kinderoppassers weet waar dit gebêre word en wat daarin is.

– Oorweeg dit om ’n basiese noodhulpgids of instruksieboekie in te sluit.

– Moenie dit tot barstens toe volmaak met onnodige items nie.

– Vervang enige item wat jy gebruik so gou moontlik.

– As jy die noodhulpkissie ’n ruk nie gebruik het nie, kies een dag van die jaar om die inhoud na te gaan.

Paramedici se drie moet-hê-items:

’n Mondstuk vir mond-tot-mond-asemhaling, iets om bloeding mee te stop en frakture te spalk, en mediese handskoene. Moet nooit aan bloed en liggaamsvloeistowwe raak sonder om sulke handskoene te dra nie.

Linda Buys deel haar drie geheime wapens:

– Kolloïedsilwer-sproei vir alle snye, brandplekke wat genees, oogbeserings en mangelontsteking.

– Mentolsalf vir oorpyn, ’n “dooie” gevoel in die oor en om oorwas te verwyder of enige insekte in die ore te “smoor”.

– Brandwonde: Hoe gouer jy die plek met koue water “laaf”, hoe beter die uitkoms.

– Probeer om die beseerde mens so goed as moontlik by te staan. Maar stel altyd jou eie veiligheid eerste.

Bron: Die Suid-Afrikaanse vereniging vir die vervaardigers van selfmedikasie (SMASA)

The post Onthou die noodhulpkissie! appeared first on SARIE.

Gee jou brein ’n ruskans

$
0
0

As jou brein ’n liefdesbrief kon skryf, is dít wat sy sou sê … 

ZyoraTAG

My engel,

Dit het al my moed geneem om hierdie brief te skryf. Ek wou lankal my hart teenoor jou uitstort, en kan net nie langer stilbly nie. Ek hoef jou sekerlik nie te herinner jy is alles vir my en dat my liefde vir jou ewig is nie?

My skat, die afgelope tyd voel dit asof jy vergeet het hoe goed ons voorheen saam was. Dit is asof ons afgesluit is van mekaar en ’n groot skeur tussen ons verskyn het. Ek roep uit na jou deur die newels, maar jy hoor my nie of herken my nie.

Die stilte raak te veel vir my. Moet my asseblief nie uitsluit nie, liefling. Moenie toelaat dat dit die einde van ons beteken nie. Kom terug na my toe. Ons het nog ons hele lewe voor ons en ek beloof ons sal dit vol mooi herinneringe maak.

Jy is my ander helfte.

Jou brein.

NS: Zykrill van Zyora kan ons kop skerp en ons herinneringe vars hou.

* Zyora-produkte is by alle groot koswinkels en apteke beskikbaar.

zykrill rgb

Raak weer lief vir jou lyf. Zyora. Gesondheidsorg vir vroue.

Raak lief en wen!

Jy kan 1 van 3 spa-dae vir twee persone asook 1 van 2 spa-geskenkpakke elke week tydens Mei tot Julie wen. (Bepalings & voorwaardes geld)

Hoe om in te skryf:

Gaan na die Zyora-Facebook-blad of besoek  zyora.co.za en teken in op ons nuusbrief om te kan wen.

Volg Zyora ook op FacebookTwitter en Instagram.

Zyora logo

The post Gee jou brein ’n ruskans appeared first on SARIE.

Speserye kan jou hiérmee help

$
0
0

Ja, kruie en speserye kan ’n vaal maaltyd in ’n fees omtower. Maar dit kan nog baie meer doen as om net jou smaakknoppies te trakteer. In die winter kan hierdie geurmiddels veral nuttig wees!

Brandrissies

Die einste chemiese stof wat aan rissies hul “byt’’ gee, beskerm die liggaam teen vry radikale, wat selle beskadig en verbind word met van kanker tot hartsiektes. Dit desensitiseer ook senuwees in die vel en kan só pyn verlig. Eet dit gereeld en dit kan ná ’n maaltyd ’n uitwerking op jou insulienvlakke hê en help om jou bloedsuikervlakke te stabiliseer. Dit stimuleer die vorming van maagsure, wat bakterieë kan help beveg. As jy gereeld aspirien drink, kan brandrissie ook moontlike skade aan jou maagwand verminder.

Kaneel

Dit word in tradisionele Chinese medisyne gebruik vir naarheid, ’n opgeblase maag en winderigheid. Navorsing wys dit kan die bloedsuikervlakke stabiliseer – en só tipe 2-diabetes help voorkom. Bloedsuikerskommelinge maak jou ook honger en kwaai. Gebruik egter liefs ’n kaneel-ekstrak (beskikbaar by gesondheidswinkels) daarvoor.

Neutmuskaat

Studies wys neutmuskaat is doeltreffend teen skadelike bakterieë in kos soos E.coli, wat dit nuttig as preserveermiddel maak. Dit bevat ’n chemikalie wat ’n soortgelyke werking as antidepressante het. Dit kan dalk verklaar waarom neutmuskaat tradisioneel vir angs gebruik is. ’n Stof daarin kan dalk ook bloedklontvorming en dus hartaanvalle voorkom. Die gemaalde spesery sowel as die olie word in tradisionele medisyne gebruik vir winderigheid en ’n opgeblase maag.

Knoffel

Dis een van die wêreld se oudste genesende kruiesoorte en ook die een wat al die meeste nagevors is. Dis ’n natuurlike antibiotikum en help om die vlakke van “slegte” cholesterol asook hoë bloeddruk te verlaag. Boonop lyk dit asof dit jou risiko vir maagkanker kan verminder, dis ’n doeltreffende ontsmettingsmiddel én dit kan jou bloed verdun (wat jou risiko vir ’n hartaanval en beroerte verlaag). Kap of kneus dit om die genesende bestanddele te onttrek. Kou aan pietersielie en salie om jou asem daarna te verfris.

Gemmer

Dit word tradisioneel gebruik as beskerming teen infeksies van die asemhaling- en spysverteringstelsel. Ook vir winderigheid en slegte spysvertering. Dis bekend as teenvoeter vir karsiekte asook naarheid weens voedselvergiftiging en gastroënteritis. Dis anti-inflammatories en word ook ingespan vir artritis.

Origanum

Dit het 42 keer soveel antioksidante as appels en 12 keer meer as lemoene! ’n Chemiese stof daarin kan dalk kanker beveg. Dit het boonop anti-inflammatoriese eienskappe wat jou gewrigte gesond hou en artritispyn kan verlig. Dis ook ’n goeie bron van kalsium, magnesium, kalium en sink.

Borrie

Borrie word eeue lank in volksmedisyne gebruik. Die wetenskap ontdek nou ’n groeiende lys van siektes waarvoor dit dalk voordelig kan wees, insluitende alzheimersiekte en depressie.

The post Speserye kan jou hiérmee help appeared first on SARIE.

Dís die gevaarlikste vrug

$
0
0

Het jy al van “avokado-hand” gehoor? Hierdie besering word weekliks by hospitale aangemeld. Lees hier hoe jy dit kan vermy:

“Avokado-hand” is ’n term wat dokters deesdae gebruik om handbeserings te beskryf wat opgedoen is terwyl mense avokados sny. Hierdie besering klink dalk vreemd, maar dit is baie meer algemeen as wat ons sou kon raai.

Die Britse raad vir plastiese chirurge stel nou voor dat veiligheidsetikette gebruik word op avokados, aangesien soveel as 4 pasiënte per week by ongevalle aanmeld.

En só ’n besering kan baie ernstig wees – is sommige gevalle is die skade aan die ligamente permanent, selfs ná intensiewe chirurgie.

Volgens die Mirror gebeur hierdie besering meestal wanneer tuiskokke die avokado se vel probeer deursny, en ook wanneer mense die pit probeer verwyder. Selfs Meryl Streep moes al weens ’n avokado mediese aandag kry.

Wil jy hierdie besering vermy? Kyk dan na hierdie video en geniet avokado deur die herfsseisoen:

Weet jy nou hoe om ’n avokado veilig te hanteer? Probeer dan hierdie vinnige nacho-resep:

Nacho’s

genoeg vir 4

Verhit oond se roosterelement. Verdeel 250 g nacho-tortillatjips tussen vier oondvaste borde. Skep 400 g gebottelde salsa in gelyke dele op tjips, gevolg deur ’n kwart van 500 g krummelmaaskaas. Rasper 150 g cheddarkaas en sprinkel ’n kwart op elke maaskaasstapel.Skep die vleis van 4 avokado’s in ’n bak. Voeg 2 fyngedrukte knoffelhuisies en sap van 1 suurlemoen by. Druk fyn met vurk en geur met sout en varsgemaalde swartpeper. Plaas borde onder roosterelement en oondrooster tot cheddarkaas gesmelt het. Haal uit en skep van die avokado bo-op.

HET JY GEWEET? ’n Enkele avokadoboom kan tot 500 vrugte per jaar lewer.

The post Dís die gevaarlikste vrug appeared first on SARIE.

5 redes waarom rooibos goed is vir jou

$
0
0

Dis een van die natuur se wonderwerke danksy ’n hele weermag antioksidante wat jou gesondheid kan beskerm en langlewendheid kan aanhelp. Boonop is dit goed vir jou vel! Dis trots Suid-Afrikaans, so eie aan ons land soos braaivleis, rugby en sonskyn. ’n Magiese plant wat natuurlike helende vermoëns besit.

Hoewel rooibos reeds eeue lank gebruik word, is die voordele nie meer net anekdoties nie. Wetenskaplikes oor die wêreld heen ondersoek dit vir ’n beter begrip van hoekom dit so goed is vir ons gesondheid, en sedert die jare vyftig is meer as honderd studies oor rooibos in wetenskaplike joernale gepubliseer.

Ons bekyk die uniekheid van dié bossie wat deel is van die Kaapse fynbos-rykdom.

Foto deur Donna Lewis SARIE KOS OKT/NOV 2012

FOTO  Donna Lewis
SARIE KOS OKT/NOV 2012

Probeer ook: Rooibos-ystee

Goud in jou koppie: 5 redes waarom rooibos goed is vir jou

1. Beskerm teen kanker

• Kragtige plantchemikalieë (wat onder meer ook as antioksidante optree) in die plant kan kanker voorkom of vertraag.

• Rooibos kan moontlik sekere gene aanskakel wat help om kankerselle af te breek. Baie studies met rotte en muise het bewys dit kan die ontwikkeling van velkanker-letsels vertraag, voor- kankeragtige letsels in die lewer verminder en die ontwikkeling van papillome (goedaardige gewasse) in die slukderm strem.

*Verskeie artikels oor rooibos en kanker het in mediese joernale soos Mutation Research, Cancer Letters en Nutrition and Cancer verskyn.

2. Die hart en ander organe

• Ses koppies rooibostee (deur die dag) kan help om jou hart gesond te hou.

• Dit beskerm die lipiede in jou bloed teen vry radikale, versterk vlakke van glutatioon (die liggaam se eie super-antioksidant) en verbeter die bloedlipied-profiel. Dit verminder die totale cholesterolvlakke, veral die vlakke van “slegte” LDL-cholesterol.

• Dit strem die aktiwiteit van ’n ensiem (ACE) wat vermoedelik betrokke is by die ontwikkeling van hartsiektes. ACE-inhibeermiddels word dan ook gebruik om hartsiektes en hoë bloeddruk te behandel.

• ’n Antioksidant in rooibos, chrysoeriol, kan vaskulêre hartsiektes voorkom en behandel. Dit kan ook die lugpyp verwyd (brongodilator), bloeddruk help verlaag en spierspasmas verlig

3. Stres

• Rooibos verminder die produksie van kortisol, die sogenaamde streshormoon. En dus ook die vernietigende uitwerking van stres op die liggaam.

• Streshormone maak jou boonop honger en moedig die stoor van vet aan. Jy sit dan gewig aan. Oorgewig word gekoppel aan onder meer hoë bloeddruk, hartsiekte, metaboliese sindroom, insulienweerstandigheid en tipe 2-diabetes.

4. Die lewer

• Rooibos voorkom die oormatige indringing van vetweefsel in die lewer – ’n potensieel ernstige toestand. Dit help ook beskadigde lewerselle herstel en word aanbeveel as ’n doeltreffende hulpmiddel om lewersiektes te voorkom en behandel.

5. Allergieë en inflammasie

• Dit help om allergieë te verlig deur die produksie van ’n ensiem (sitochroom P450) aan te wakker wat allergene help metaboliseer.

• Die antioksidant-effek van rooibos kan help om inflammasie te verminder en só kolitis help beveg. (’n Siekte wat sere in die kolon veroorsaak.)

photo-1460043838908-93987e531945

The post 5 redes waarom rooibos goed is vir jou appeared first on SARIE.


Kan jou kind se slaaptyd hom later vet maak?

$
0
0

’n Gereelde slaaptyd kan dalk verhoed dat ’n kind later vetsugtig raak. Maaltye op dieselfde tyd en minder as ’n uur se TV per dag kan ook vetsug keer, dui nuwe navorsing aan.

Daar is ’n verband tussen roetine, emosies en gewig, wys ’n studie wat in die Journal of Obesity verskyn het.

Wetenskaplikes het die gewoontes bestudeer van sowat 11 000 Britse kinders wat tussen 2000 en 2002 gebore is. “Die studie verskaf nog bewyse dat ’n gereelde roetine onder voorskoolse kinders verbind kan word met hul gesonde ontwikkeling – en die kans verminder dat hulle later vetsug kry,” volgens die hoof-outeur van die verslag.

FOTO Unsplash / Aditya Romansa

Dis die eerste studie waarin gekyk is na die moontlike verband tussen jong kinders se roetine en gewigsprobleme in hul pre-tienerjare. Die navorsers het drie roetines geëvalueer waaraan driejarige kinders by die huis blootgestel word: gereelde slaaptyd, gereelde maaltye en of die ouers TV-kyk tot ’n uur of minder per dag beperk.

Al drie roetines kon verbind word met beter emosionele selfbeheer of hoe maklik die kind gefrustreer of prikkelbaar raak. Die kinders met minder emosionele selfbeheer was meer geneig om later vetsugtig te raak.

“Die navorsing help ons verstaan hoe jong kinders se roetine rondom slaap, maaltye en skerm-tyd verband hou met hul gedrag en emosies. Slaap is die belangrikste – veral vir jong kinders. Ons weet nog nie alles oor hoe slaap metabolisme beïnvloed nie, maar navorsing wys toenemend ’n verband tussen vetsug en sleg slaap.”

Bron: The Telegraph

The post Kan jou kind se slaaptyd hom later vet maak? appeared first on SARIE.

Kry só cholesterol uit jou lyf

$
0
0

Dis maklik om jou pad na hoë cholesterolvlakke te plavei met wat jy eet. Die teenoorgestelde is ook waar – vars vrugte en groente, heel grane en sekere vette is góéd vir jou hart, en sommige daarvan veral vir cholesterol.

Oerwoud-kos

Hawermout bevat ’n goeie dosis oplosbare vesel, wat met cholesterol en sy voorlopers in die spysverteringstelsel “bind” en dit uit die liggaam “lei”. Hierdie soort vesel kom ook voor in baie vrugte, soos sitrus en appels.

Jan se plant

Bone is veral ryk aan oplosbare vesel. Dit neem ook ’n rukkie vir die liggaam om dit te verteer, wat jou langer versadig laat voel. Van nierboontjies tot swartbekboontjies, die keuse is wyd.

Hard om te kraak

Verskeie studies wys boomneute (dus nie grondbone) is goed vir jou hart. ’n Hand vol (sowat 30g) per dag kan jou LDL- of “slegte” cholesterol effens verlaag – met sowat 5%. Dit het ook ander voedingstowwe wat jou hart beskerm.

Vis ook

Olieryke vis soos tuna, haring, sardyne en salm (eet dit drie keer per week) bevat “goeie” omega 3-vette. Dit verbeter jou “gesonde” HDL-cholesterol, wat gevaarlike plaakvorming in, die are kan help voorkom. Olieryke vis kan ook ondermeer help om bloeddruk te verlaag.

Watsegoed?

Sterole en stanole is natuurlike stowwe wat in klein hoeveelhede in talle grane, groente, vrugte, peule, neute en sade voorkom. Dit bevat kragtige eienskappe wat cholesterol verlaag, en vervaardigers voeg dit soms by kosse. Vra jou apteker vir aanvullings wat dit bevat. Sowat 2 g per dag kan jou LDLcholesterol met tot 10% verlaag.

The post Kry só cholesterol uit jou lyf appeared first on SARIE.

Keer jou gewig dat jy swanger raak?

$
0
0

 

Wil jy binne die volgende jaar of twee swanger raak? Kyk dan na jou gewig en leefstyl. Vetsug kan ’n nadelige invloed hê op jou én jou man se vrugbaarheid. 

’n Duidelike verband bestaan tussen oorgewig en vetsug aan die een kant en die voorkoms van leefstylsiektes soos diabetes, hartsiekte, hoë bloeddruk, gewrigspyn en sekere kankers aan die ander kant. Maar het jy geweet vetsug kan ook op verskillende maniere jou vermoë om swanger te raak benadeel?

In ’n Nederlandse studie onder leiding van dr. Johan van der Steeg is bevind dat vroue met ’n LMI van 35 of hoër se kans om swanger te word, tussen 26% en 45% minder is as dié met ’n gesonde LMI.

Vetsug kan volgens dr. Ananya Mandal jou vrugbaarheid of swangerskap op drie maniere benadeel. Eerstens kan dit ’n onreëlmatige mentruasiesiklus en probleme met ovulasie veroorsaak, tweedens kan dit bevrugting verhoed, en derdens kan dit tot komplikasies in jou swangerskap lei.

FOTO Getty Images

 VROUE: Só beïnvloed vetsug jou vrugbaarheid 

  • Vetsug kan jou libido verlaag.
  • Oorgewig voue kan menstruasieprobleme hê.
  • Vetsug veroorsaak insulienweerstandigheid, wat gekoppel word aan ’n onvermoë om gesonde eierselle te produseer.
  • Vetsug veroorsaak ’n wanbalans in jou hormoonvlakke – spesifiek dié van leptien, ’n hormoon wat jou eetlus en energievlakke reguleer. Hoë vlakke van leptien kan volgens dr. Van der Steeg bevrugting verhoed.
  • Jou risiko om ’n miskraam te kry is hoër as jy oorgewig is.
  • Babas van oorgewig vroue is dikwels te groot vir hul ouderdom.

 MANS: Só beïnvloed vetsug jou fertiliteit 

  • Vetsug en ’n onaktiewe leefstyl word gekoppel aan ’n lae spermtelling.
  • Dit kan hormoonveranderings veroorsaak wat jou libido kan verlaag.
  • Vet om die maag kan tot ’n afname in testosteroonproduksie lei. 

Wat kan ek doen?

Volg ’n gebalanseerde dieet.

Vermy geprosesseerde, verfynde kosse.

Foliensuur en vitamien A is veral belangrik vir mans se sekshormone en spermproduksie. Eet genoeg donker blaargroentes en eiers en drink melk.

Begin oefen.

Doen aërobiese oefening soos draf, fietsry of swem, drie tot vyf keer per week.

Weerstandsoefeninge is ook belangrik, want dit versterk jou spiere. En spierselle verbrand meer energie as vetselle.

Meer inligting oor “Die dieet waarvan almal praat”:

Webtuiste: www.the-diet.co.za

E-pos: diet-info@the-diet.co.za

Telefoonnommer: (016) 362 4890

Facebook: www.facebook.com/pg/thediet.co.za/

Twitter: @dietsa

Bronne: 

Obesity affects spontaneous pregnancy chances in subfertile, ovulatory women

Obesity and Infertility

Fertility and a man’s weight

 

The post Keer jou gewig dat jy swanger raak? appeared first on SARIE.

Het jy rekenaar-oë?

$
0
0

Dis deesdae deel van die werksdag om ure na ‘n rekenaarskerm te staar. En onvermydelik dat dit jou oë sal uitput.

Dit het selfs ‘n naam: Rekenaar-visie-sindroom. (Die sambreelterm vir alle oogprobleme van rekenaargebruikers.) Navorsing wys sowat 50% tot 90% van mense wat op ‘n rekenaarskerm werk, sal minstens ‘n paar simptome daarvan hê.

Daar is nie bewyse dat dit langtermyn skade (soos katarakte) veroorsaak nie. Maar op kort termyn kan dit jou oë moeg en geïrriteerd laat voel en jou konsentrasie belemmer. Dit veroorsaak dowwe of dubbele visie, droë, rooi of geïrriteerde oë, hoof-, nek- of rugpyn.

Maak seker jou bril is die regte voorskrif en vir ’n rekenaar ontwerp. As jy bifokale lense dra, moet jy dalk jou kop in ‘n ongemaklike posisie hou om op die skerm te kan sien. Jou oogkundige kan ‘n bril voorskryf waarvan die lensontwerp vir jou spesifieke behoefte aangepas is.

leer

FOTO Unsplash \ Helloquence

Maak ook ‘n paar eenvoudige veranderinge aan jou werkomgewing.

*Verander die beligting om fel lig op jou rekenaarskerm te verminder. As dit deur ’n nabygeleë venster stroom, skuif die rekenaarskerm en maak die blindings toe tot dit verdwyn. Laat installeer ’n dempskakelaar as die oorhoofse ligte te skerp is. Of koop ’n staanlamp met ‘n beweegbare lampskerm wat die lig eweredig oor jou lessenaar versprei. ‘n Filter op jou rekenaarskerm wat die lig demp, kan ook jou oë beskerm. ’n Teenweerkaatsing-lagie op jou brillens verrig wondere.

*Jy knip jou oë minder gereeld wanneer jy konsentreer en daarom raak die oppervlak droog en krapperig. Oogdruppels kan help. (Vra jou oogkundige.)

*Navorsers het bepaal die beste posisie vir jou rekenaarskerm is net onder oogvlak, sowat 50 tot 70 cm van jou gesig af. Sit ‘n stander langs die rekenaarskerm vir gedrukte materiaal waarvandaan jy werk.

*Kyk elke 20 minute of wat weg van die skerm af, sowat 20 sekondes by die venster uit, of laat jou blik deur die vertrek dwaal.

*Speel met jou rekenaarskerm se skerpheid, kontras en lettertipe tot jy die beste formaat vir jou oë kry.

 

The post Het jy rekenaar-oë? appeared first on SARIE.

Volg dié 7 wenke vir ’n gelukkiger, stresvrye jy

$
0
0

Het jy geweet dat jou liggaam natuurlike goedvoel-chemikalieë het? Serotonien is ’n breinoordragstof wat jou kalm en gelukkig laat voel. Breinoordragstowwe is die chemiese boodskappers wat inligting van een senuweesel na die volgende vervoer.

Jou serotonienvlakke kry ’n hupstoot wanneer jy sekere goed doen, soos om te oefen, lekker kos te eet en te slaap.

Hier’s ’n paar maniere waarop jy jou serotonienvlakke kan verhoog:

1. Oefen om goed te voel

Jy benodig net 15 minute se oefening per dag om jou serotonienvlakke ’n hupstoot te gee. Oefening help nie net met gewigbeheer nie, maar ook om hartkwale te voorkom en stresvlakke te verlaag. Deur te oefen gaan jy nie net beter lyk nie, maar ook beter voel.

2. Eet jouself gelukkig

Jy ken daai warm en gelukkige gevoel nadat jy smaaklike hoendersop geëet het. Sekere kosse beïnvloed jou brein se chemie. Triptofaan, ’n aminosuur in melk, hoender, vis, kaas en eiers, gee jou serotonienvlakke ’n hupstoot. Maak seker dat jy elke dag een van hierdie kossoorte eet om gelukkiger te voel.

3. ’n Lekker nagrus

As jy sleg voel, is jou eerste instink gewoonlik om te gaan lê en die duvet oor jou kop te trek. Onthou egter dat kwaliteit belangriker is as kwantiteit – dit help nie jy slaap vir ure aaneen met ’n brein wat nog nie afgeskakel is nie. Maak jou slaapkamer ’n plek waar jy ’n goeie nagrus kan kry. Jy kan ook soos die Spanjaarde maak en smiddae ’n siësta van 20 minute neem.

4. Kry ’n bietjie son

Sonlig stimuleer die produksie van serotonien. Dit verbeter dus jou bui, help om depressie te voorkom, laat jou beter slaap en kan jou selfs help om gouer van reisroes te herstel. Jy hoef wel nie ure onder skadelike UV-strale te lê en sonbak nie. Sit naweke in die oggendson as jy kans kry of gaan stap buite.

5. Stadig met boeretroos

Suiker, alkohol en kafeïen gee jou serotonienvlakke ’n vinnige hupstoot. Wanneer jy egter te veel van hierdie stowwe inneem, word jou liggaam afhanklik daarvan om goed te voel en die breinoordragstowwe raak oneffektief. Hou dus matigheid voor oë om die chemikalieë agter jou oë aan die gang te hou!

6. Masserings is belangrik

Jy weet hoe lekker dit is om ’n rugmassering of drukkie te kry. Onlangse navorsing deur die Universiteit van Miami se mediese skool wys dat ’n massering jou serotonienvlakke met 28% kan laat verhoog en kortisol (die streshormoon) met 21% laat verlaag. As ons maar net die dokter kon oortuig om vir ons ’n voorskrif vir ’n spa-behandeling te gee!

7. Wanneer “goedvoel-wenke” nie werk nie

Depressie is ’n geestesiekte wat nie eenvoudig deur hierdie wenke genees kan word nie. Die wenke sal jou beslis help om deur moeilike tye te kom en ’n meer gebalanseerde lewe te lei, maar soms het jy ekstra hulp nodig. As jy nie voorskrifmedisyne wil gebruik nie, is daar ’n gesonde en natuurlike alternatief soos SOLAL 5-HT1™.

Wat is SOLAL 5-HT1™?

SOLAL 5-HT1™ bevat ’n gekonsentreerde hoeveelheid sceletium. Sceletium is ’n aktiewe bestanddeel wat uit die inheemse kanna- of kougoedplant verkry word. Dit help jou brein om ensieme te blokkeer wat serotonienvlakke verlaag, en help sodoende om neerslagtigheid te takel. Dit is veilig en nie-verslawend.

Klik hier vir meer inligting oor SOLAL 5-HT1™.

The post Volg dié 7 wenke vir ’n gelukkiger, stresvrye jy appeared first on SARIE.

Hubbly-bubbly, e-sigarette nie onskadelik

$
0
0

Tabak veroorsaak sowat 18 soorte kankers. En is verantwoordelik vir sowat 20% van kankersterftes wêreldwyd.

Dit word in baie vorme gevind – almal sleg vir jou gesondheid. “Ons dink soms net aan sigarette as ons van tabak praat. Weet egter dat hubbly-bubbly en e-sigarette net so skadelik vir jou gesondheid kan wees. Dit vergroot boonop nie net jou eie sterfterisiko nie, maar ook mense om jou wat blootgestel word aan tweedehandse rook,” sê prof. Michael Herbst, KANSA-gesondheid-spesialis.

Behalwe die gesondheidsgevare, raak tabakprodukte al hoe duurder en het dit ‘n negatiewe impak op die ekonomie. “Dink net wat jy met sowat R30 per dag kan doen, in plaas daarvan daarom op ‘n pakkie sigarette te blaas. Jy kan sowat R1000 per maand spaar. Die finansiële impak is dus enorm,” volgens prof. Herbst.

Die gebruik van hookah, of hubbly-bubbly, is kommerwekkend veral by die jeug. Tabak in ‘n hookah-pyp is nie minder skadelik nie — die water in ‘n hookah filtreer nie die giftige chemikalieë uit die tabakrook nie. Hookah-rokers kan dalk selfs meer tabakrook inkry, omdat hulle ’n groot volume tydens ‘n rook-sessie inasem.

In Suid-Afrika word hubbly-hubbly-verwante produkte dan ook definieer as ’n ‘tabakproduk’, soos aangedui in die Wysigingswet op die Beheer van Tabakprodukte (2007). Dit beteken die gebruik en verkoop daarvan moet voldoen aan tabakprodukte se regulasies. Só kan hookahs en hul produkte nie aan enigiemand onder die ouderdom van 18 verkoop word nie.

Elektroniese sigarette en soortgelyke toestelle word gereeld as hulpmiddels bemark om op te hou rook, of as gesonder alternatief vir tabak voorgehou. Nie so nie, dit bevat steeds skadelike chemikalieë, sê prof. Herbs. Volgens die Wêreld-Gesondheidsorganisasie, is die veiligheid van e-sigarette nie wetenskaplik bewys nie en daar hang dus ’n vraagteken oor moontlike risiko’s vir jou gesondheid.

As jy wil ophou rook, volg ’n program soos Kanse se e-Kick Butt (www.ekickbutt.org.za).

*Dis vandag Wêreld-geen-tabak-dag

The post Hubbly-bubbly, e-sigarette nie onskadelik appeared first on SARIE.

Sjokolade, pasta, wyn help met gewigsverlies!

$
0
0

Jy hoef nie alles wat lekker is te vermy as jy ’n paar kilogramme wil afskud nie. Hoor wat sê die wetenskap van sjokolade, botter en selfs wyn …

FOTO Instagram / @Reesewitherspoon

Skink wyn

Een chemikalie wat onder meer in rooiwyn/rooi druiwe voorkom, ellagiensuur, verander skynbaar die manier hoe “vet gene” hulself “uitdruk”, vuur die metabolisme aan en vertraag die groei van bestaande en nuwe vetselle. Die gesonde bestanddeel in wyn, resveratrol, kan dalk boonop sommige van die negatiewe effekte van te min oefening help teëwerk. Dit gesê, laasgenoemde (Amerikaanse) studie was op rotte.

FOTO Pixabay

Smeer botter dik

Botter, veral van vrylopende diere, is ’n goeie bron van vetsure wat met gewigsverlies help. Een vetsuur, bottersuursout, kan die funksie van die mitochondria verbeter, die “batterye” in jou selle wat jou jonk hou. Nog een, gekonjugeerde linoleïensuur (CLA), word kommersieel as (sintetiese) aanvulling verkoop wat vet verbrand.

Maak jou eie botter só

FOTO Donna Lewis

Doen dit soos die Italianers

Jy kan kilojoules verbrand deur pasta te eet. Die vangplek? Sit dit in die yskas en eet koud. Die struktuur verander in “weerstandige” stysel, wat beteken jou lyf moet harder werk om dit te verbrand. Jy voel dan langer versadig. Natuurlike weerstandige stysel kom voor in lensies, bone, erte en hawermout.

FOTO Unsplash / Brooke Lark

Eet donkersjokolade

Mense wat gereeld donkersjokolade eet, is maerder as hul susters wat nee dankie sê – al verorber hulle meer kJ. Die gewigsverlieseienskappe word in jou maag “ontsluit”, waar “goeie” bakterieë die kakao fermenteer in antiinflammatoriese samestellings. Dit skakel glo gene gekoppel aan vetsug “af”.

FOTO Unsplash / NordWood Themes

Mense wat gereeld donkersjokolade eet, is maerder as hul susters wat nee dankie sê – al verorber hulle meer kJ. Die gewigsverlieseienskappe word in jou maag “ontsluit”, waar “goeie” bakterieë die kakao fermenteer in antiinflammatoriese samestellings. Dit skakel glo gene gekoppel aan vetsug “af”.

Kafoefel

Dis die sneller vir oksitosien, ’n hormoon wat tydens emosionele binding vrygestel word. Dit kan streshormone verlaag en aptyt onderdruk. Jy verbrand ookkilojoules (kJ) tydens seks, sowat 18 kJ (mans) en 13 kJ (vroue) per minuut.

FOTO Unsplash

The post Sjokolade, pasta, wyn help met gewigsverlies! appeared first on SARIE.


Wees goed vir jou hart en bene

$
0
0

Kalsium is belangrik vir beenontwikkeling en -gesondheid. Vroue moet veral seker maak hulle kry hul lewe lank genoeg kalsium in om optimale beendigtheid te kry en hulself sodoende teen osteoporose te beskerm. Navorsing wys ook kalsium kan help om PMS te voorkom.

Die beste manier om te verseker dat jy die minerale inkry wat jy nodig het om jou bene te beskerm, is met ’n aanvulling. ZyosteoTM is ’n nuwe kalsium-en-magnesium-aanvulling met verbeterde MenaQ7®-kristalle en 1000 IU Vitamien D3.

ZyosteoTM bevat vier sleutelbestanddele wat saamwerk om te verseker dat kalsium veilig en doeltreffend in die bene opgeneem word vir optimale beensorg en uit die slagare bly waar dit skade kan veroorsaak.

ZyosteoTM bevat verbeterde MenaQ7®-kristalle (vitamien K2) vir doeltreffende kalsiumgebruik in die bene waar dit nodig is, sowel as cheleerde magnesium vir deeglike absorpsie en 1000 IU Vitamien D3, wat noodsaaklik is vir die opname en metabolisme van kalsium. Die magnesium is gebind met aminosuur-proteïen sodat dit nie inmeng met die kalsiumopname nie en verseker dat maksimum hoeveelhede uitkom waar jy dit die nodigste het.

ZyosteoTM is Sanha Halaal-gesertifiseer en ook vegetaries en laktose- en suikervry.

WEN!

Skryf in om dalk een van drie spa-dae vir twee te wen (een per maand van Mei tot Julie), of een van twee produkpakke elke week van Mei tot Julie.

Hoe om in te skryf:

Gaan na die Zyora-Facebook-blad of die Zyora-webtuiste en teken in op die nuusbrief om in te skryf.

Volg Zyora op Twitter en Instagram vir meer inligting.

 

The post Wees goed vir jou hart en bene appeared first on SARIE.

Sooibrand: Tem die vuur in jou bors

$
0
0

Sooibrand kan jou snags wakker hou. Maar ’n spesifieke soort voorskrifmedikasie daarvoor word onder meer aan Alzheimersiekte gekoppel. Werk daaraan om jou leefstyl te verander

Dis die branderige sensasie onder jou borsbeen wat kan strek van die krop van jou maag tot by jou keel. Sooibrand. Byna almal kry dit een of ander tyd. Op enige ouderdom, ook kinders en babas. Soos vetsug is sooibrand ’n epidemie van die moderne tyd. Dis dikwels die liggaam se manier om protes aan te teken teen verkeerde eet- of leefstylgewoontes.

Drink jy medikasie daarvoor, is dit soos om die rooi lig “af te skakel”, volgens dr. Francois Retief, internis en gastroënteroloog van Mosselbaai. Protonpomp-inhibeerders of PPI’s, wat die hoeveelheid suur verminder wat jou maag afskei, is die mees voorgeskrewe medikasie in die wêreld. (Soos Altosec, Losec, Nexium, Omez, ensovoorts.) Dit het egter newe-effekte op lang termyn. Daarom is ’n doktersvoorskrif nodig as jy dit langer as twee weke gebruik. Dit kan onder meer jou risiko vir demensie (wat Alzheimersiekte insluit) met 44% verhoog, volgens die Journal of the American Medical Association (JAMA). Want dit beïnvloed nie net die suur in jou maag nie, maar ook in ander organe, soos die brein.

Maklik herkenbaar

Sooibrand is ’n pynlike of brandende sensasie in die boonste deel van die maag of borskas wat soms na die rug versprei. Behandeling is daarop gemik om nie net die sooibrand te stuit nie, maar ook permanente skade aan jou slukderm, keel en lugweë te voorkom. ’n Sirkelvormige spier (esofageale sfinkter of LES) trek die slukderm soos ’n tabaksak toe wanneer jy klaar gesluk het, verduidelik dr. Retief. Soms sluit die LES egter nie dig genoeg nie. Suur maagsappe stroom dan terug en kom met die slukderm se delikate voering in aanraking. Dit word refluks of terugvloeiing genoem en brand omdat maagsure ongelooflik sterk is. Dis tot 10 keer sterker as suiwer suurlemoensap en kan ’n tand oplos, volgens die mediese webtuiste Health24.com.

Mite: Nee, daar is nie te veel suur in jou maag nie. Die suur beland maar net op die verkeerde plek: In jou slukderm pleks van jou maag.

Blus die vuur

Jy kan simptome met oor-die-toonbank- teensuurmiddels beheer. (Soos Gaviscon of Rennie.) Dit neutraliseer maagsure en breek dit tot onskadelike sout en water af. Dit voorkom nie refluks nie, maar verminder simptome. Anders as PPI meng dit nie met die spysvertering se werking in nie. Die voortdurende gebruik daarvan word egter ook nie aanbeveel nie. Gebruik PPI’s ’n maksimum van twee maande. Of neem af en toe wanneer jy nie anders kan nie, sê dr. Retief. Onthou egter, sooibrand is jou liggaam se manier om jou te waarsku iets is fout. Eerder as om teensuurmiddels aanhoudend te sluk, probeer ’n paar leefstylveranderinge.

Dr. Retief en Health24.com beveel aan:

Spys en drank

– Drink baie water, dit kan help dat die suur na jou maag terugspoel.

– Eet piesangs en laevet-jogurt, en drink kamilletee, verkieslik swart ofmet laevet-melk.

– Voeg meer vesel soos semels by jou dieet. Voorkom só hardlywigheid en dat kos te lank in jou maag bly. Dit veroorsaak winderigheid en opgeblaasdheid.

– Kou ná ’n maaltyd 30 minute lank kougom. Dit stimuleer die produksie van speeksel, wat sure neutraliseer.

Vermy

– Gebraaide of vetterige kos soos pasteie, terte, verwerkte vleis en worsies, wat moeilik verteer.

– Melk, veral volroom. Die kalsium en proteïen in die vet stimuleer die vervaardiging van sure. Kies laevetjogurt met probiotika – dit verbeter spysvertering as jy dit gereeld eet.

– Knoffel, uie en sjokolade. Ook mente. Maak seker jou tandepasta is nie daarmee gelaai nie.

– Koffie (kafeïenvry en gewoon), tee en alkohol, veral rooiwyn.

– Gaskoeldranke laat die maag swel.

– Suurvormende vrugte, soos sitrus, tamatie en pynappel.

– Branderige geurmiddels soos Tabascosous en brandrissie.

Dié lys geld nie vir almal nie. Jy sal gou genoeg agterkom watter kosse jou probleme gee. Eet minder en kleiner porsies. Ontspan wanneer jy eet. Eet stadig, kou deeglik en moenie kort ná ete gaan skuinslê nie.

Verloor gewig

Oorgewig, veral om jou middel, kan jou sooibrand gee. Maagvet sit meer druk op die buikholte. In ’n Skandinawiese studie is bevind ’n man wat 84 kg weeg se sooibrand kan met 75% verminder as hy 4 kg verloor.

Medikasie

Sekere medisyne, soos vir asma en hartkwale, kan die LES laat verslap. Gesels met jou dokter oor alternatiewe medikasie. Neem aspirien en anti-inflammatoriese middels net ná ’n maaltyd.

Hou op rook

Rook maak die LES minder ferm. Nikotien stimuleer ook die produksie van maagsure.

Tekkies aan 

Sooibrand kom minder voor as jy gereeld oefening kry, wys navorsing. Draf of swem byvoorbeeld minstens een keer per week 30 minute lank en jou kanse is 50% minder as ’n sofapokkel s’n.

Zzzzz . . .

– Sowat 75% van sooibrand-lyers het snags simptome, of dis dan erger. Eet ’n ligte, vroeë aandete sodat jy nie op ’n vol maag gaan slaap nie. Vermy kos sowat drie uur voor slaaptyd.

– Lig jou bed se koppenent hoër deur houtblokke onder die bedstyl te sit. Of slaap op ekstra kussings wat net jou kop oplig.

– Probeer op jou linkersy slaap. Sommige studies wys dit help met vertering, vanweë ’n eienaardigheid in die liggaam se ontwerp. Slaap jy op jou regtersy, vererger dit waarskynlik die simptome.

When in Austin 🌮🌮

A post shared by Karlie Kloss (@karliekloss) on

Oorsake (buiten leefstyl)

Swangerskap

 Die hormonale veranderinge tydens swangerskap is geneig om die LES te laat ontspan. Jou maag wat groter word, plaas ook meer druk op die maaginhoud. Pas waar moontlik leefstylveranderinge toe en gebruik teensuurmiddels (bespreek met jou dokter). Weet ook dis tydelik!

Mantelvliesbreuk 

Dis ’n verslapping of vergroting van die normale opening in die mantelvlies, waardeur die slukderm en groot bloedvate loop. ’n Deel van die maag kan deur die opening na die borsholte glip en simptome soos sooibrand veroorsaak, sê dr. Retief.

Asma

 Nie net kan suur-refluks asma veroorsaak en vererger nie, maar die teenoorgestelde is ook waar: Asma en medikasie daarvoor kan die rede vir jou sooibrand wees.

Nog: ’n Maagseer, diabetes, selfs hartaanval.

Dokter toe

– As jy gereeld meer as een keer per week sooibrand het, het jy dalk chroniese suur-refluks. Ook as teensuurmiddels nie help nie. Gaan dadelik dokter toe, as:

– Jy sukkel om te sluk, of dis pynlik.

– Vomeer.

– Bloed hoes.

– Soms sukkel om asem te kry.

– Asma

The post Sooibrand: Tem die vuur in jou bors appeared first on SARIE.

Help, ek bly moeg!

$
0
0

Jy’s moeg, jy sukkel om te fokus. Is dit moegheid of is jy uitgebrand?

Hier’s wat jy moet weet:

Ek is moeg! Hier’s jou redes

Altyd moeg? ’n Paar eenvoudige veranderinge aan jou leefstyl kan jou soos ’n nuwe mens laat voel.

Jy is net so móég. Dis ’n algemene klagte waarmee mense dokter toe gaan. Die lewe is immers ’n groot gejaag – daar is eenvoudig nie rustyd nie. En jy aanvaar dis hoekom jy soggens te moeg is om op te staan. Tog kan daar baie ander redes wees. En die oplossing is dalk eenvoudiger as wat jy dink.

verneder

FOTO Unsplash (Ben White)

1. ’n Ystertekort

Wees versigtig vir ’n aanvulling as ’n bloedtoets nie gewys het jy het wel ’n ystertekort nie, omdat ’n oormaat yster soms tot allerlei gesondheidsprobleme kan lei. Probeer yster op die natuurlike manier inneem.

Vleis bevat yster in ’n verbinding wat sonder moeite opgeneem word (heemyster). Die yster in plantkosse (soos donkergroen blaargroentes, neute en bone) word moeiliker geabsorbeer. Verhoog die inname daarvan deur dit te kombineer met kosse hoog in vitamien C, soos lemoensap.

Simptome:

• Slaaploosheid
• ’n Gebrek aan lewenskrag en energie
• Jou tandvleis en die binnekant van jou onderste ooglid is bleek
• Jy sukkel om te konsentreer
• Verloor jou eetlus
• Mondsere
• Swak weerstand teen infeksie
• Hoofpyne
• Raak maklik uitasem
• Jou naels en toonnaels is bros

2. Trae skildklier

Dis die klier wat die vetjies kan laat aanpak as dit onderaktief is. Dit kan jou ook moeg en vergeetagtig maak. Jou skildklier skei hormone af wat feitlik al jou liggaamsfunksies beïnvloed. Beskou dit as jou liggaam se “minister van finansies” wat besluit hoeveel “geld” (liggaamsenergie) uitgegee kan word.

Simptome:

• Haarverlies
• Stadige pols
• Lae bloeddruk
• Buierigheid
• Depressie
• Koulikheid
• Hardlywigheid
• Seksflouheid
• Onvrugbaarheid
• Spierswakheid

3. Slegte nagrus

Slaap sorg vir ’n groot deel van jou daaglikse energie. Die derde van jou lewe wat jy veronderstel is om te slaap het ’n verreikende invloed op die ander twee derdes. Dit beïnvloed hoe wakker jy is, jou energie, bui, gewig, geheue, kommunikasievaardighede, reaksietyd, produktiwiteit en kreatiwiteit.

Oplossing: Gaan slaap en staan soggens dieselfde tyd op. Gebruik jou bed net om in te slaap, nie bv. vir TV kyk nie. Vermy alkohol of kafeïen voor slaaptyd. Moenie laat saans oefen nie. Probeer met ’n boek of warm bad ontspan voor jy bed toe gaan.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

 

Is ek uitgebrand?

Simptome van uitbranding

Fisiek: Moegheid, slaapversteurings, maagprobleme, migraine, gereelde verkoues en griep, rugpyn, spierpyne, kortasem, naar, gewigstoename of -verlies, verandering in eetgewoontes.

Emosioneel: Woede, verveeldheid, frustrasie, depressie, angs, apatie, hulpeloosheid, pessimisme, irritasie.

Houding: Sinies, afsydig, twyfel in jouself, gebrek aan empatie, swak konsentrasie, buierig, lae selfbeeld.

Gedrag: Ongeskik/ongeduldig met kliënte, krities, pak die skuld op ander, op die verdediging, kommunikeer swak, stel take uit, klou aan rigiede reëls vas, baie afwesig, maak foute, waag onnodige kanse, misbruik drank/pille, het huweliksprobleme, baklei met medewerkers, werkoholisme, obsessief, oorweeg selfmoord.

FOTO Unsplash / Toa Heftiba

FOTO Unsplash / Toa Heftiba

Voorkom uitbranding

Slaap, ’n wondersoete ding
Slaaploosheid of swak slaapgehalte is die eerste teken van innerlike spanning. Jy sluimer nie maklik in nie of skrik snags wakker. Slaap het ’n geweldige vermoë om te genees. Jou spiere, senuwees en organe se energiebehoeftes neem dan drasties af – en al jou energie is beskikbaar vir die herstelproses. Gereelde oefening, ’n voedsame dieet en stresverligtingstegnieke help jou om beter te slaap. Skakel saans geleidelik na ’n laer versnelling oor, vermy stimulante en geniet ’n warm bad voor jy in die bed klim.

Asem in . . .
Diep asemhaling is ’n natuurlike kalmeermiddel. Ontspan deur jou asemhaling doelbewus te reguleer. Die eenvoudigste manier is om met jou diafragma en maagspiere asem te haal. Asem diep in, vul jou longe heeltemal en trek dan stadig jou buik in terwyl jy uitasem.

Mediteer
Tegnieke wat jou gedagtes tot stilstand bring, is die kragtigste vorm van streshantering en ontspanning. Al meer dokters skryf meditasie voor om bloeddruk te verlaag, mense met angina te help en alledaagse stres te verminder. Dis eenvoudig: Besluit waarop jy jou gedagtes ’n tyd lank gaan toespits – bv. jou asemhaling. Bring jou dwalende gedagtes telkens na jou fokuspunt terug.

Begeleide verbeeldingsvlugte (visualisering)
Daar is baie kassette en CD’s beskikbaar. Jy luister na ’n vertelling met mooi agtergrondmusiek wat jou help om te ontspan. Navorsing toon dat sulke kragtige denkbeelde jou liggaam en biochemie beïnvloed.

Bron: Self deur Linda Friedland

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

 

The post Help, ek bly moeg! appeared first on SARIE.

15 simptome van menopouse

$
0
0

Hoe weet ek dis my oorgangsjare?

’n Volledige mediese geskiedenis isdie beste manier om uit te vind. Hou dagboek wanneer jy menstrueer en van enige simptome – en bespreek dit met jou dokter. Bloedtoetse kan gedoen word om die vlakke van estrogeen- en follikel-stimulerende hormone (FSH) te bepaal. Maar ’n akkurate toetsing is moeilik omdat hormoonvlakke in die oorgangsjare baie wissel, sê Nicole Jaff, gesertifiseerde menopouse- konsultant by die Amerikaanse menopouse-vereniging, in haar boek Menopouse: Die volledige gids (Penguin, 2008). Dis uit druk, maar haar jongste boek, Menopause: Everything you need to know (Bookstorm, 2011), is in boekwinkels en word aanbeveel. Sy is ook besig met haar doktorale tesis oor die menopouse.

15 moontlike menopouse-simptome

  1. Warm gloede
  2. Nagsweet
  3. Borsswelling en -teerheid
  4. Lyfseer (veral seer gewrigte)
  5. Lae libido
  6. Verandering in urinêre funksie (bv. inkontinensie)
  7. Gewigstoename
  8. Vergeetagtigheid
  9. Buierigheid
  10. Angs
  11. Veranderde slaappatrone
  12. Hoofpyne/migraine
  13. Ongereelde maandstonde
  14. Velveranderinge (bv. minder elastisiteit)
  15. Simptome wat swangerskap naboots: seer borste, moegheid, onbeheerste eetlus, tranerigheid

 

 

The post 15 simptome van menopouse appeared first on SARIE.

Hier’s 5 vroue wat yster kort. Is jy een van hulle?

$
0
0

In verskillende lewensfases of met sekere mediese toestande loop vroue gevaar om bloedarmoede (anemie) te ontwikkel.  Vyf van hierdie lewensfases is hieronder uiteengesit en in elke geval sal ysteraanvullings haar lewenslus help herstel. As jy een van hierdie vroue is, praat vandag nog met jou dokter om te begin ysteraanvullings neem:

1. Sy is anemies

As jou ystervlak laag is, het jou liggaam nie genoeg yster om jou rooibloedselle te help om suurstof deur jou liggaam te dra nie. Vroue is meer geneig tot bloedarmoede weens ’n ystertekort as mans. ’n Ysteraanvulling sal jou rooibloedselle optimaal help werk sodat jy nie meer uitgeput en lusteloos voel nie.

2. Sy is swanger

Bloedarmoede is meer algemeen by swanger vroue en kan lei tot lae geboortegewig, voortydige geboorte en selfs moedersterfte. Dit kom voor omdat swanger vroue meer bloed vervaardig om voedingstowwe vir die baba te help lewer. Daar is drie soorte bloedarmoede wat die meeste gedurende swangerskap voorkom:  bloedarmoede weens ystertekort, bloedarmoede weens foliensuurtekort en bloedarmoede weens vitamien B12-tekort.

3. Sy menstrueer

As jou liggaam nie kan voorbly om verlore rooibloedselle te vervang nie, sal jy anemies word. Vroue met swaar menstruele bloeding loop groter gevaar van anemie en sal baat vind by ysteraanvullings.

4. Sy is ’n nuwe ma

Bloedverlies tydens en ná geboorte verhoog ’n vrou se kans op bloedarmoede. Bloedarmoede weens ’n ystertekort hou verband met ’n toename in nageboortelike depressie en voorkoms van urineweginfeksies; moegheid en uitputting; onvoldoendemelksindroom; en borsmelk van laer gehalte. Ysteraanvulling is dus in hierdie geval belangrik vir die ma en baba se gesondheid.

5. Sy oefen

Vroue wat gereeld intens oefen, het ’n hoër risiko vir bloedarmoede. Dit is wel moontlik om steeds te oefen met dié toestand, maar jy loop gevaar om melksuurvergiftiging te kry en vinniger moeg te raak, lusteloos te voel en minder uithouvermoë te hê. Jou hersteltyd kan ook langer wees en jou spiere sal seerder wees as wat jy verwag het.

ZyferTM is ’n sagwerkende nuwegeslag-ysteraanvulling en bevat ’n unieke, gepatenteerde yster, Ferrochel®, sowel as vitamien B12 en foliensuur vir verligting van uitputting. Die yster is ’n glisenaat, wat dit hoogs biobeskikbaar maak en verseker dat dit maklik absorbeer om die ystervlak vinnig te herstel, sonder dat dit om in name met ander minerale of medikasie meeding.  Zyfer sal nie naarheid of hardlywigheid veroorsaak nie, twee algemene newe-effekte van ander ysteraanvullings. Die vitamien B12 sal saamwerk om  jou energievlak te herstel en jou goed laat voel. Zyfer is beskikbaar in gerieflike coni-knak-sprinkels vir die hele gesin – knak die kapsule oop en sprinkel die inhoud oor kos. Dit is gerieflik vir babas en kinders en vir mense wat nie hou van pille sluk nie.

Zyfer is SANHA HALAAL-gesertifiseer, suikervry, laktosevry en vegetaries.

WEN!

Skryf in om ’n spa-dag vir twee te wen of een van twee Zyora-produkpakke. Daar is twee produkpakke op die spel elke week in Julie.

Hoe om in te skryf:

Gaan na die Zyora Facebook-blad of die Zyora-webtuiste en teken in op die nuusbrief om jou naam in die trekking te kry. Kyk hier na die kompetisievideo:

Sluit aan by die Zyora-gemeenskap op Facebook, Twitter en Instagram.

The post Hier’s 5 vroue wat yster kort. Is jy een van hulle? appeared first on SARIE.

Viewing all 219 articles
Browse latest View live