Dis wêreldwyd só: Vroue se seksdrang is aan ’t kwyn. Dalk omdat ons die eise van ’n loopbaan, kinders en eggenoot moet balanseer?
Baie kenners meen die antwoord lê nie in ’n botteltjie pille nie – Viagra vir vroue.
Daarvoor is vroulike seksualiteit te kompleks. Terwyl die dinge wat jou liefdesvlam kan laat kwyn, eintlik baie eenvoudig is . . .
Ons kyk na agt klein jakkalsies in die slaapkamer. Maar vir elk is daar ’n oplossing.
1. Ek hou nie van my lyf nie
Niks, selfs nie stress of moegheid nie, laat seksuele begeerte so vinnig verdamp soos wanneer jy onaantreklik voel nie, sê Dr. Eve, Kaapstadse seksuoloog.
Mans erken ’n pragtige vrou stimuleer hulle visueel. Maar vra hom wat hom seksueel opgewonde maak en hy vertel dis sy maat op die hoogtepunt van die liefdespel – sonder inhibisies, klere of hang-ups, ’n Vrou wat gemaklik in haar lyf is, maak nie saak of daar tekens van ouderdom of kindergeboorte is nie.
Wat jy kan doen
• Voel gesond. Oefen gereeld en eet heilsame kos, hou op rook en moenie te veel drink nie.
• Dra klere wat jou sexy laat voel, maak nie saak hoe oud of groot jy is nie.
• Raak aan jou lyf as jy jouself versorg sodat jy gewoond is daaraan.
• Leer waarvan jy hou – masturbasie is ’n manier om dit te doen. Só sal jy dan ook makliker vir jou maat kan sê hoe om jou te stimuleer, as julle albei daarmee gemaklik voel.
• Lees Dr. Eve se Pillowbook (Oshun) vir ’n goeie program oor selfbemagtiging, kennis en plesier.
2. Na my kinders se geboorte het my sekslus
Berei jou maar daarop voor dat ouerskap jou seksdrang gaan laat kwyn, waarsku Dr. Eve. Daar is geen mediese of hormonale rede nie.
Terselfdertyd word jou maat se beskermingsdrang aangewakker – en hy belê nou meer tyd in sy loopbaan om jul toekoms te verseker. Daar is minder intieme tyd saam; juis die emosionele skop wat vroue nodig het om in die luim vir seks te kom.
In ’n moderne verhouding werk jy dalk ook nog. Jy kry min tyd vir jouself, wat jou nie ontvanklik maak vir seks as jy uiteindelik bed toe gaan nie.
Wat jy kan doen
• Trek van die begin af duidelike grense vir die kinders. Hulle regeer nie jou tyd of jou slaapkamer nie. Hulle kry liefde en versorging, maar jy en jou man het ook tyd saam nodig.
• Laat jou maat betrokke raak by die kinders se versorging en kry só broodnodige tyd vir jouself.
• Sorg vir ’n goeie ondersteuningstelsel sodat julle steeds alleen kan uitgaan. Ruim tyd in vir spesiale, sensuele samesyn. En onthou om pret te hê en romantiese en erotiese volwassenes te wees.
• Verander jou definisie van seks. Skep nuwe maniere om seksueel te wees wat jou behoefte aan gemeenskap, orgasme en liefde bevredig. Só kan sensuele liefdespel ’n alternatief vir seks wees.
3. Die intimiteit tussen my en my man het
Dalk is julle een van baie paartjies wat opgehou het om seks te geniet lank voor die kinders opgedaag het, sê Dr. Eve. Dalk het jy met hom getrou sonder dat jy regtig tot hom aangetrokke was. Maar dit het in daardie stadium sin gemaak. Hy was betroubaar en lief vir jou. Nou voel jy vasgevang saam met jou beste vriend en/of die broodwinner.
Miskien is dit andersom. Jou maat vermy en verwaarloos jou, loop rond of is net nooit emosioneel beskikbaar nie. Die meeste vroue het intimiteit nodig om sexy te kan voel.
Te min intimiteit maak passie dood. Vir mans is seks meer visueel en hulle word maklik deur sexy onderklere, kaal borste of selfs suggestiewe opmerkings verlei, sê
Leandie Buys, seksuoloog van Port Elizabeth en skrywer van Seisoene van seks (Naledi-uitgewers, 2009).
Vir vroue is dit meer gekompliseerd. Jy weet as jy ’n harde dag se werk agter die rug het en by die huis wag ’n huilende kleuter, ’n wasbak vol skottelgoed en ’n man voor die TV is seks die laaste ding waaraan jy dink.
Wat jy kan doen
• Wees duidelik en spesifiek oor wat jul intimiteit in die wiele ry, sê Dr. Eve.
• Neem die voortou om intimiteit in jul verhouding aan te moedig. Blomme, kerse, wyn,musiek, verrassings en bederfsessies (soos om mekaar te masseer) kan wondere verrig.
• Laat jou maat op ’n volwasse manier verstaan wat jou behoeftes aan intimiteit is. Onderhandel sodat die manier en tyd jul albei pas. Soos: “Ek hou van romanse” of “Dis gehaltetyd saam, die hele aanloop tot seks”.
• As onderhandelinge misluk, of een of albei kan nie daarmee volhou nie,moet julle dalk jul verwagtinge rakende intimiteit aanpas. Jy is bv. moeg en gestres en voel jou man wil meer seks hê as wat jy kan gee.
• As dit nie werk nie, gaan vir huweliksterapie, bevel Dr. Eve aan.
4. Ek is in my menopouse
Liggaamlike veranderinge in die menopouse kan jou seksdrang beïnvloed, verduidelik Leandie Buys.
Sowat 20% van vroue in hul menopouse sukkel met vaginale droogheid. Jou vaginale wande kan ook dunner en minder soepel wees. Dan kan dit tydens seks brand, jeuk en soms bloei en pynlik wees.
Wat jy kan doen
• Gebruik vaginale smeermiddels wat jy oor die toonbank koop vir die droogheid. Vermy egter middels met ’n petroleumbasis, soos Vaseline. Dit verswak ’n kondoom se lateks en kan vaginale infeksies veroorsaak. As smeermiddels nie help nie, bespreek vaginale estrogeenroom, -ringe en –tablette met jou dokter/ginekoloog.
• Jy kan minder gereeld en minder intense orgasmes hê.Dit neem dalk langer en jy moet meer gestimuleer word om seksueel geprikkel te word.Alle vroue kan baat vind by gereelde gemeenskap en masturbasie. Dit help om die spiere te versterk wat jou baarmoeder, vagina en blaas ondersteun en bevorder vaginale smering.
• Die samelewing het ’n obsessie met jeug, wat ons soms laat glo ons moet die hormoonvlakke van tieners hê, sê dr. CarolThomas,’n ginekoloog van Kaapstad. Baie vroue is dan vir die verkeerde rede ongelukkig: Omdat jy nie meer aan die kandelare rondswaai nie. Moenie jou sekslewe vergelyk met wat jy in boeke lees of op TV sien nie – en dan wroeg omdat joune saai lyk nie.
5. Nie nou nie, Liefie, my selfoon…
Amerikaanse navorsers het ’n nuwe soort seksuele probleem geïdentifiseer, wat veral mense in die korporatiewe wêreld aantas.
In ’n aanlyn-opname het 4 uit 10 mense met MBA’s gesê hulle sal seks staak om op ’n boodskap op hul Blackberry te reageer!
Leandie Buys sê sy sien toenemend in haar praktyk hoe Facebook,Twitter, Blackberries en e-pos ’n wig tussen man en vrou indryf.
“Sommige mans (of vroue) knoop aanlynverhoudings aan. Ander is ‘verslaaf ’ aan tegnologie.
Hulle kan nie meer op ’n persoonlike, van aangesig-tot-aangesig-manier met hul maats omgaan sonder om deur tegnologie onderbreek te word nie.”
Wat jy kan doen
• Daar kom ’n tyd in elke verhouding – sosiaal, werk of intiem – dat jy jou rekenaar en/of selfoon moet afskakel en met jou lewe aangaan. In intieme situasies, bv. as jy met ’n spesiale persoon uitgaan, is daar niks so erg soos wanneer jy weet hy/sy is nie heeltemal “daar”nie. Hy kan knik en glimlag, maar jy weet onder die tafel SMS hy of bring sy Facebook-profiel op datum.
• Dis belangrik om sosiale grense te stel as jy nuwe mense ontmoet. As jy uitgaan, maak ’n punt daarvan om jou selfoon af te skakel. Vertel die spesiale mens in jou lewe jy fokus nou op hom of haar.
• Dit geld ook in langtermyn-verhoudings. Net omdat julle jare lank getroud is, ’n huis, kinders en honde het, beteken dit nie jy kan sosiale etiket in die wind strooi nie. Maak ’n onderskeid tussen “huistyd” en “werktyd”. Maak seker jou maat weet hy word gewaardeer en dat jy hom al jou aandag gee as julle gehaltetyd saam deurbring.
• Die ou reël – dat jul bed net vir slaap en seks gebruik moet word – is steeds van toepassing. Dit moenie besaai lê met skootrekenaars en Blackberries nie.
• Jou man is verslaaf aan sy rekenaar?
8 redes hoekom jy nie meer passie het nie
1 Ek hou nie van my lyf nie
2 Ná my kinders se geboorte het my sekslus verdamp
3 Die intimiteit tussen my en my man het verdwyn
4 Ek is in my menopouse
5 Nie nou nie, Liefie, my selfoon . . .
6 Seks, drugs, maar waar is die ruk en rol heen?
7 Maak werk van jou depressie
8 Chemoterapie en jou libido
6. Seks, drugs, maar waar is die ruk en rol heen?
Lesley* (48) was gewoond daaraan om besig te wees. Maar dinge het verlede jaar begin skeefloop.
“Ek was huilerig, kon nie op my werk fokus of die lewe oor die algemeen hanteer nie. My dokter het antidepressante voorgeskryf.”
Danksy die pille kom sy nou deur haar dagtake sonder om oorweldig te voel. Maar haar libido is weg, wat probleme in haar huwelik skep.
“Ek is nie seker of dit die depressie of die medikasie is nie,” sê sy.
Daar is ongelukkig nie ’n maklike antwoord nie, verduidelik dr. Carol Thomas.|
“Sekere medisyne kan newe-effekte hê wat jou sekslewe kan beïnvloed. Maar dan moet jy jouself ook afvra hoe ’n gesonde libido nou eintlik lyk. As jy onrealistiese verwagtinge het, kan dit onnodige druk op jou sit.”
Sommige nie-steroïed-, anti-inflammatoriese middels (soos aspirien, parasetamol en ibuprofen) verminder ook vaginale smering, wat tot roogheid kan lei. Anti-istamiene en medisyne vir hoë bloeddruk doen dit ook.
Maar die Pil en antidepressante is bo-aan die lys van medikasie wat jou belangstelling in seks kan laat taan. Die Pil kan ook voorgeskryf word vir migraine, fibroïede – ’n niekwaadaardige gewas – en warm gloede, asook nagsweet in jou menopouse.
Die Pil veroorsaak dat minder testosteroon in jou liggaam beskikbaar is. En jy het ’n knertsie daarvan nodig om die vuur in jou lyf aan te steek.
Wat jy kan doen
• Vra jou dokter of jou medisyne seksuele neweeffekte kan hê. Bespreek enige veranderinge met hom/haar. Jou medikasie kan dan aangepas word, sê Carol.
• Daar is ander metodes van geboortebeperking, benewens die Pil. Soos die Mirena, vir vroue wie se gesinne voltooi is, of diegene wat nie dadelik ’n baba beplan nie. Dis ’n intra-uteriene apparaat (IUA), wat klein hoeveelhede progesteroon vrystel. Dit het nie ’n uitwerking op jou libido nie.
• As jy die Pil vir menopousale simptome gebruik, kyk of leefstylveranderinge help. Vermy bv. kafeïen, alkohol en suiker.Oefening en ’n goeie slaappatroon kan ook help.
7. Maak werk van jou depressie
Stres is deel van die moderne lewe. Voeg daarby hormonale veranderinge (soos die menopouse), en dit kan jou oor die afgrond van depressie stoot. Depressie en ’n lae libido gaan dikwels hand aan hand.
Prozac, Zoloft en ander antidepressante bekend as SSRI’s (selektiewe serotonien-heropnameinhibeerders) takel depressie deur jou goedvoelchemikalie, serotonien, ’n hupstoot te gee.
Jy voel dan beter, maar soms ten koste van jou libido. En as dit stres in jou verhouding veroorsaak, is jy dalk kort voor lank terug op die depressie-wipwaentjie.
Wat jy kan doen
• Jy kan ’n ander antidepressant probeer. Bespreek dit met jou psigiater. Kry ’n sielkundige met wie jy kliek en werk aan onopgeloste konflik uit jou verlede.
• Moenie jou medikasie tydelik los omdat jy jou libido vir daardie naweek wil laat kop optel nie. Dis dom om medikasie te onderbreek en gaan in elk geval nie help nie: Die opgehoopte uitwerking van die antidepressant is steeds in jou lyf.
8. Chemoterapie en jou libido
Chemoterapie het Riana* (45) se lyf in ’n vroeë menopouse gedompel. Haar libido het verdwyn en ’n droë vagina het gemeenskap moeilik gemaak. Chemoterapie is daarop gemik om selle te stop wat te vinnig verdeel, verduidelik Carol. Dis hoekom jou hare, organe en eierstokke beïnvloed word.
Wat jy kan doen
• Smeerjellie kan help, of hormoonaanvullings, of ’n ring kan in jou vagina geplaas word wat klein, skadelose hoeveelhede hormone vrystel.
The post Maak jou libido wakker: 8 maniere hoe appeared first on SARIE.