Wenk 4 in ons kort reeks: Staal jouself teen dik dieetbeloftes.
Dit kan nogal ’n probleem wees. ’n Passie vir iets.
Miskien is jou passie jou werk of jou stokperdjie, ’n okkasie wat jy reël? ’n Ondersteuningsgroep of sosialemedia-blad waaraan jy behoort? Of is jy moontlik dié tyd van die jaar passievol om jou winterlyf reg te ruk vir koel, sagte somerlappies wat dit moeiliker maak om daardie ekstra “jy” weg te steek?
Dalk klink die volgende vir jou bekend: Wanneer daardie interessante artikel/voorloper-e-pos of uitnodiging dat daar “iets nuuts” vir jou wag op jou selfoon, tablet of rekenaar verbyflits, moet jy jouself soms dwing om eers klaar te maak waarmee jy besig is – voordat jy jy jou kan verloor in ’n nuwe sappige brokkie, grensverskuiwende inligting of sommer net lekker inspirasie. (Ironies genoeg, as kinders deesdae die gedrag openbaar van “ek wil net gou-gou kyk”, kry hulle sommer die etiket van aandagafleibaarheid.)
Maar terug by die passie. My passie is om jou te help om die kaf van die koring te skei – om beter te eet! En op te hou “dieet”.
Vandag wil ek jou ’n ander “dieetbelofte” uitlig: Jy gaan nie honger wees nie.
Honger. Dis ’n normale deel van die lewe. As ons nie honger geword het nie, sou baie mense net nie geëet het nie. Dink maar, as jy nie honger geword het nie en jy het net ’n slegte gereg in die huis, iets waarvan jy nie hou nie, gaan jy dit mos nie eet nie? Maar laat jouself lank genoeg sonder kos en jy sal enigiets gryp en in jou mond druk!
Die tendens vandag is natuurlik aanbevelings soos: nog ’n bietjie botter of room – sommer in jou koffie; moenie skrik vir te veel vet nie – dit maak dat jy nie “honger” word nie. Die sogenaamde “banting-burger” met ’n lekker vetterige maalvleiskoekie, 3 stukke spek en 3 soorte kaas is inderdaad uiters versadigend!
En dit ís so: Vet maak versadig. Omrede jy meer versadig voel, eet jy ook minder. DIT is in baie gevalle – maar nie altyd nie – nodig om jou liggaam te dwing om vet te verbrand. Maar dis nie al wat vet doen nie.
Baie mense dra ’n geen wat veroorsaak dat hulle inderwaarheid meer insulienweerstandig raak wanneer hulle te veel versadigde vet eet. Versadigde vette kry jy in vet van dierlike oorsprong, veral botter, room en vetterige vleis, daar daar is ook plantaardige bronne van versadigde vette, soos kokosneutolie, kokosneutroom en kokosneutmelk.
Vet kan ook inflammasie aanblaas en as jy ’n vet-superabsorbeerder is en iemand is wat daarmee saam ook moeilik vet verbrand, nou ja, dan gaan vet jou heel waarskynlik vet maak.
Is my aanbeveling “lae vet”? GEENSINS. Liefs moet jy soos ’n wag aan diens nooit jou waaksaamheid laat vaar oor die OORSPRONG van die vet op jou bord nie! Dít, die oorsprong, bepaal hoe goed of sleg dit vir jou gesondheid is.
En as jou lyf nie wil saamwerk op die meer-vet-maak-jou-maer-beloftes nie, onthou: Ons is nie almal dieselfde nie. Daar ís ’n plek vir minder vet.
Lees ook
- Dieetkundige Mariza blog: Staal jouself teen dik beloftes!
- Dieetkundige Mariza blog: Hoe maak jy jou kos gaar dat dit help gesond maak?
- Dieetkundige Mariza blog: Twee, drie of ses keer op ’n dag
The post Dieetkundige Mariza van Zyl blog: ’n Passie vir iets kan ’n probleem wees appeared first on SARIE.