Oefening is nie net vir gewig verloor nie. Ook die gesondheid van jou liggaam en kop wen al die pad. Hier’s nóg vyf redes om te oefen.
Geheue soos ’n olifant
Oefening word gekoppel aan ’n beter geheue, beter fokus en vinniger leer. Studies dui daarop dis tans nog die beste manier om Alzheimersiekte te voorkom of uit te stel. Dit bevorder bloedvloei na die brein en voed die groei van nuwe bloedvate en selfs nuwe breinselle.
Weg met depressie
Oefening kan jou laat ontspan, ja. Dit kan ook help om depressie se swart hond af te weer. Vroue wat gereeld oefen (twee uur per week se matige oefening), was 50% minder geneig om depressief te wees as hul sittende vriendinne, volgens ’n studie in die Amerikaanse joernaal Medicine & Science in Sports & Exercise.
Soos Duracell-hasies
Voor jy op die rusbank neersak, luister hier: Sofapokkels wat gereeld laeintensiteit- oefening begin doen het, se afgematheid het met tot 65% verminder, volgens ’n Amerikaanse studie.
Hokaai cravings!
Mense wat 15 minute lank oefen nadat hulle kopwerk gedoen het – nes ons almal daagliks op kantoor – verorber gemiddeld 400 minder kilojoules as hul sittende kollegas. Die Britse navorsers reken oefening stook beskikbare brandstof in die lyf. Jou brein kry dan die sein dis onnodig om dit met kos aan te vul.
Kanker-besweerder
Mense wat meer aktief is, se kans is 20% minder om sekere ernstige kankers te kry, insluitend van die long, nier, maag, baarmoeder en slukderm, wys Amerikaanse navorsing. Dit sluit aan by vorige navorsing dat dit die risiko vir kolon- en ander kankers aansienlik kan verminder.
The post Studies wys nóg redes om te oefen appeared first on SARIE.