Ja, jy wéét jy moet minder soetgoed eet. Maar wat gebeur met jou lyf as jy dit oordoen? Hier is agt maniere hoe te veel suiker jou gesondheid kan beïnvloed.
Jy gooi dit by jou tee/koffie. Voeg dit by gebak soos pasteie en koek. Sprinkel dit oor jou ontbytvlokkies of hawermout. Dis in baie van jou gunstelinghappies, wat insluit roomys, vrugtesap en gaskoeldrank. En skuil in feitlik alle geprosesseerde kos, byvoorbeeld ontbyt-kitspap en smaakmiddels soos tamatiesous. Suiker. Vir die meeste van ons ’n onweerstaanbare lekkerte.
Maar die verband tussen suiker en chroniese siektes kom toenemend onder die soeklig. Dit word genoem as een moontlike oorsaak van die stygende wêreldwye epidemie van vetsug en verwante toestande. Soos metaboliese sindroom, ’n sambreelterm vir ’n groep simptome, waaronder hoë bloeddruk, cholesterol en bloedsuiker. Dit kan ook jou kans op toestande soos diabetes tipe 2, bloedvat- en lewersiekte vergroot.
Sowat 65% van SA se vroue en 31% van ons mans is oorgewig/vetsugtig. Ook sowat 23% van kinders van 2 tot 14, volgens die Dieetkundevereniging van SA (ADSA). Tot sowat 150 jaar gelede was suiker nie ’n stapelkos nie. Nou gebruik ons jaarliks gemiddeld sowat 50 kg per persoon. Dis 29 teelepels (bygevoeg en natuurlik) per dag!
Maar presies hoe werk suiker in jou liggaam? En wat is die effek op jou gesondheid as jy te veel daarvan eet?
’n Wye reeks gesondheidsprobleme wat aan te veel suiker in jou dieet gekoppel kan word, is al deur wetenskaplikes bestudeer.
1. ’n Lewer soos ’n drinker
’n Groot probleem met suiker (en veral geprosesseerde fruktose) is dat jou lewer ’n beperkte vermoë het om dit te metaboliseer. Dit kan net sowat ses teelepels bygevoegde suiker per dag met gemak hanteer, volgens SugarScience. Jou lewer sit klein hoeveelhede suiker in glikogeen om en berg dit tot jou liggaam energie nodig het. Oorlaai jy egter die lewer daarmee, word dit gedwing om die oorskot in vet om te sit. Dit word óf in die lewer gestoor óf in die bloedstroom vrygestel. Dit kan lei tot nie-alkoholiese vervetting van die lewer (steatohepatose), ’n groeiende probleem in lande met ’n Westerse dieet. Mense met nie-alkoholiese lewervervetting eet twee tot drie keer meer suiker as die gemiddelde, volgens ’n studie in die Amerikaanse Journal of Hepatology. Steato-hepatitis, ’n inflammatoriese toestand van die lewer, kan lei tot lewersirrose. Dodelik, tensy jy ’n leweroorplanting kry.
2. Insulienweerstandigheid
Insulien is die “sleutel” wat glukose (bloedsuiker) toegang tot selle verleen. Weens ons Westerse dieet kan dié hormoon ophou werk soos dit moet. Selle raak “weerstandig” daarteen en suiker hoop in jou bloed op. Dis bekend as insulienweerstandigheid en speel ’n rol by die ontwikkeling en verloop van verskillende toestande, waaronder vetsug, hartvatsiektes en diabetes tipe 2. Studies dui op ’n verband tussen suiker in oormaat en insulienweerstandigheid, volgens ’n artikel in die American Journal of Clinical Nutrition. As jou selle weerstandig raak teen die effek van insulien, vervaardig jou pankreas meer daarvan om die oortollige suiker in jou bloed op te ruim. Noodsaaklik, omdat chronies verhoogde bloedsuikervlakke organe ernstig kan beskadig. Mettertyd kan die pankreas nie meer byhou nie – insulienproduksie verminder weens skade aan die pankreas en bloedsuikervlakke skiet die hoogte in (diabetes tipe 2).
3. Die groot K
’n Hoë inname van suiker en verfynde koolhidrate kan gekoppel word aan ’n groter risiko vir sommige kankersoorte. Ook ’n beter kans dat dit kan terugkeer en ’n kleiner oorlewingskans ná kankerbehandeling. Kanker word gekenmerk deur die ongekontroleerde groei en vermenigvuldiging van selle. Insulien is een van die vernaamste hormone wat selgroei reguleer. Baie wetenskaplikes dink dus insulienvlakke wat aanmekaar hoog is (om verhoogde bloedsuikervlakke teen te werk), kan daartoe bydra. Die metaboliese probleme wat met ’n hoë suikerinname gepaardgaan (soos vetsug), gee ook stukrag aan chroniese laegraadse inflammasie, nog ’n moontlike oorsaak van kanker. (Bronne: www.ncbi.nlm.nih.gov, Journal of Diabetes Research)
4. Soos ’n dwelm
“Hedonistiese honger” is ’n relatief nuwe term. Dit beteken jy smag na sekere kosse, selfs al het jou liggaam dit nie nodig nie. Hoe meer jy suiker en verfynde kitskosse eet, hoe meer wil jou liggaam daarvan hê vir dieselfde gevoel van welbehae, baie soos dwelmverslawing. Studies wys jou brein reageer op vetterige en suikerkosse selfs nog voor jy dit in jou mond sit, volgens www.scientificamerican.com. Jy kan net maar ’n item sien wat jy begeer en die brein se beloningstelsel word geaktiveer. Sodra die lekker happie jou tong raak, stuur jou smaakorgane seine na verskeie dele van die brein, wat dan die breinoordragstof dopamien “uitspoeg”. Die plesier-tier is uit sy hok! Oordoen jy dit gereeld, word die brein mettertyd oorspoel met soveel dopamien dat dit aanpas en gedesensiteer raak – die aantal reseptore verminder wat die dopamien herken en daarop reageer. Jou brein het nou baie meer suiker nodig om dieselfde plesierhoogtes as vantevore te bereik. Iets om oor te dink: Suiker veroorsaak veranderinge in die brein wat soortgelyk is aan dié by mense wat aan dwelms soos kokaïen verslaaf is, wys breinskanderings deur wetenskaplikes by die Amerikaanse nasionale instituut vir dwelmmisbruik (drugabuse.gov).
5. Honger en dik
Fruktose bluf boonop jou metabolisme deurdat dit jou liggaam se aptytbeheerstelsel afskakel. Insulien word nie meer gestimuleer nie. Dit kan dan nie meer ghrelien onderdruk nie, ’n hormoon wat ’n rol speel by hoe honger jy voel. Wat weer inmeng met leptien-seine, die hormoon wat jou brein vertel jy is nie honger nie/versadig. ’n Bose kringloop. (Bron: The Journal of Clinical Endocrinology and Metabolism)
6. Jou fut gou uit
Gekonsentreerde bronne van verfynde koolhidrate, soos versoete koeldrank, witbrood en kits-graankos, kan jou bloedsuikervlakke (glukose) vinniger laat styg. Jy kan berge versit – vir ’n klein rukkie. Daarna is jy nog meer traag as voor jou suikerhappie. Eet liefs onverfynde koolhidrate (bv. kekerertjies/hoemoes, brood gebak met klipgemaalde meel of lensies) en vars vrugte gekombineer met proteïenryke kosse. Ook versnaperings, veral dié ryk aan plantaardige vette, soos neute, avokado of olywe. Dit help stabiliseer bloedsuikervlakke en hou jou langer aan die gang, beveel Mariza aan.
7. ’n Vel soos ’n padkaart
Wetenskaplikes het ’n verband gevind tussen die inname van suiker en veroudering, volgens SugarScience. Te veel suiker kan inmeng met die herstel van kollageen, die proteïen wat help dat jou vel plomp lyk. Eet jy dikwels suikerhappies, kan dit die vel se elastisiteit verminder en plooie voortydig hul opwagting laat maak. Eet liefs vrugte, die oorsprong van die suiker daarin is natuurlik en beskadig nie jou vel nie, beveel die webtuiste health.com aan.
8. Dom … dommer
’n Amerikaanse studie het bevind as jy gereeld suikerdrankies drink, kan dit jou geheue aantas en hippokampus laat krimp. Dis die deel van jou brein verantwoordelik vir leer en geheue. Maar hoor hier: Dieetdrankies is nie juis beter nie. Meer navorsing is egter nodig om te bepaal hoekom dit so is, volgens die webtuiste sciencedaily.com.
DIE REGTE MANIER
Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl, beveel aan:
– Vermeerder jou inname van gesonde vette. Van die beste bronne is koudgeparste olyfolie, neute soos pekan en makadamias, avokado, salm en ander vetterige vis.
– Verruil versoete sappe en koeldrank vir water, rooibos- en groentee.
– Eet meer gefermenteerde kosse, soos kimchi, kombucha, organiese jogurt en kefir. Die gesonde bakterieë daarin ondersteun jou spysvertering sowel as die dermbioom wat bloedsuiker en selfs cholesterolvlakke in die liggaam kan affekteer.
The post SUIKER: Dís wat dit aan jou doen appeared first on SARIE.