Jy wil jouself die feestyd gate uit geniet. Gesondheidskenners vertel jou hoe, en verklap ook hul eie ‘sondetjies’ …
Dié artikel is in ons Desember 2014-uitgawe gepubliseer.
Prof. Tim Noakes kry ’n oorval as hy moet sien hoe dié befaamde dokter ’n warm tjip uit sy kinders se borde steel. En hy kan gerus maar, sê dr. Heinz Mödler, mediese spesialis en skrywer van Kaapstad. “Die sogenaamde gevaar wat dié taboe vir my gesondheid inhou, kan nie vergelyk word met die emosionele plesier wat dit my gee nie. ’n Lekkerte wat ek nie tydens my kort tyd op aarde gaan prysgee nie. Veral nie vakansietye nie.”
Want wat is dan fout met ons dat ons die woord “balans” uit ons woordeboek gehaal het? Jy verorber mos nie ’n hele sakkie aartappels nie! Hoekom moet jy skuldig voel oor ’n paar tjips?
Kortom: Skink daai koue glas chardonnay en vul jou vakansie met pret. Gebruik egter jou gesonde verstand en hou matigheid voor oë, sê hy. Maar daar lê die knoop. Baie van ons kan juis nie daardie streep trek nie. Volgens dr. Craig Nossel, hoof van Vitality Wellness, Discovery se welstand-program, koop Vitality-lede vakansietye minder gesonde kos. Hulle is ook minder aktief, hoewel ons dan juis meer tyd daarvoor het. “Geen wonder baie van ons bars uit ons nate wanneer ons Januarie teruggaan werk toe nie.”
Dis omdat ons dikwels in die feestyd ’n alles-of-niks-houding het, sê dr. Helgo Schomer, sielkundige, radio- en TV-persoonlikheid en motiveringspreker. ’n Oormaat kos en drank en te min oefening gun jou liggaam nie hersteltyd nie. Ons gaan so ver oorboord dat dit later nie eens meer lekker is nie. “’n Bietjie matigheid en ’n goeie skoot mindfulness help jou om aan die spesiale vreugdes van die feestyd te knibbel.”
Só maak jy
Gebruik dr. Linda Friedland, mediese dokter en skrywer van Ag, ma, whatever! – Selfone, neusringe en ander tienerkwessies (Tafelberg, 2013), as voorbeeld. Sy bederf haarself vakansies deur sommige oggende in te lê en met middagslapies. Al oefen sy dalk nou minder hard, doen sy nie niks nie. Sy probeer minstens elke tweede dag draf, swem of joga doen.
Ook dr. Marisse Venter, plastiese en rekonstruktiewe chirurg van Johannesburg, draf steeds 5 km elke dag as sy die slag ’n welverdiende blaaskans neem. Net ’n uitgelese paar familielede kom Kerstyd by dr. Schomer in Kaapstad kuier. “Ek het dus genoeg tyd om na hartelus branderplank te ry in die verkwikkende branders van die Indiese en Atlantiese Oseaan.” Dit gesê, erken hy dat hy nie tuisgemaakte Kerskoekies kan weerstaan nie. “Lebkuchen! [’n Duitse koekie soortgelyk aan gemmerbrood.] Dit spel Ouma, warmte, welkom!”
Self-koestering
Dr. Lorraine Becker van Johannesburg is ook ’n voorstander van matigheid, al sê sy in die feestyd moeilik “nee” vir brosbrood en Kerspasteitjies (mince pies) met room. Matigheid geld egter nie net vir wat jy eet en drink nie, maar ook vir die sosiale sy van die Kersvakansie. (Sy is een van ’n handvol plaaslike mediese dokters met ’n kwalifikasie in seksuele medisyne.)
“Daar is soveel aansprake op jou tyd, jy moet familie besoek en partytjies bywoon. Doen moeite om ook alleen in die son te ontspan en te lees, of om saam met jou maat lepel te lê. Beskerm jouself met alle mag teen ander se dramas. Moet ook nie by familie-rusies betrokke raak nie.”
Volgens dr. Erika Coertzen, mediese dokter en homeopaat van Tzaneen, het ons dikwels onrealistiese verwagtinge van die Kersvakansie. Dit kan stres veroorsaak wat ’n negatiewe effek op jou lyf en gemoedstoestand kan hê. Dr. Friedland sê ons verwag soms van onsself, of ander verwag van ons, om heeltyd gelukkig te wees, want dis mos vakansie! Maar soms voel ons juis ’n bietjie “af ”, of selfs depressief, die oomblik wanneer ons besige lewe tot stilstand kom.
Die vakansietyd beklemtoon ook hartseer en verliese, soos ’n egskeiding of ’n geliefde se dood. Dié tyd van veronderstelde vrolikheid en samesyn onderstreep dikwels die pynlike ervarings in ons lewe. Wees dus emosioneel goed vir jouself. As jy nie uitbundig en vol vreugde voel nie, is dit oukei. Praat met iemand na aan jou, of ’n terapeut. Jy hoef nie altyd ’n dapper front voor te hou nie. Laat jouself toe om jou ware emosies te voel, gaan stap/draf, drink koffie saam met ’n vriendin. En besluit wat vir jóú die mees toepaslike manier is om die tyd deur te bring.
Ons bestee ook dikwels te veel geld aan geskenke en duur vakansies. Die belangrikste dinge in die lewe, soos tyd saam met jou geliefdes en die gees van mededeelsaamheid, kos immers niks, sê dr. Coertzen. Fokus op die gehalte van jou Kerservarings . . . en nie die hoeveelheid nie, vul dr. Schomer aan. Wees vrygewig, ook met jou tyd. Bied jou dienste as vrywilliger aan op ’n plek waar mense dalk vergete en eensaam voel. Want as jy gee, kry jou eie welstand ook sommer ’n hupstoot.
Laastens beklemtoon dr. Coertzen dis belangrik om jouself nie met onnodige skuldgevoelens te kasty as jy “oortree” nie. “Mengeldrankies soos ’n Piña Colada is vir my deel van die feestyd – die pynappelsap en kokosneut daarin is darem gesond!” grap sy.
Klik vir die volgende
Slim planne van die fiksheidskenner
The post Kenners sê: Gesonde Kersfees! appeared first on SARIE.