Dis geen geheim dat Franse vroue op kaas, wyn, botter en room floreer nie. Hoe ryker, hoe beter! Die Franse aktrise Clémence Poésy erken sy kan nie sonder kaas en donkersjokolade leef nie. En die aktrise Marion Cotillard (hooffoto) drink sonder enige kommer ’n glasie rooiwyn. Die leefstyl het skynbaar ook geen effek op hul middels en heupe nie. Is dit net hul Franse gene, of kan almal so eet?
Geregistreerde dieetkundige Mariza van Zyl kyk in haar nuwe boek, Dik vir dieet (Naledi, R245), onder meer na vrae wat sy gereeld hoor. Hier is ’n verwerking van haar antwoorde, wat in ons Desember 2015-uitgawe verskyn het.
Die Franse leef op kaas, wyn botter en room.
Hoe nou?
Toestande soos hartsiektes, metaboliese sindroom en oorgewig kom inderdaad minder onder die Franse voor as onder die res van die Westerse wêreld. Dit word al hoe duideliker dat kaas die beskermende faktor is, spesifiek ryp en skimmelkase soos brie en camembert. Dis toe nie die wyn wat die verskil maak nie, soos eers gereken is. Die bakterieë of kulture wat gebruik word om die kase te maak het blykbaar ’n effek op die hormone wat vrylik in melk voorkom en onder meer insulienweerstandigheid kan aanmoedig. Die hormone kom natuurlik in melk voor en laat kalfies groei, maar weens moderne praktyke is daar meer hormone as vroeër jare. Die kase is ook bronne van sekere probiotika, veral spesies wat onder meer goed vir jou cholesterol is.
Is dit goed vir my gesondheid om saans ’n glasie wyn te drink?
Die voordele van ’n glasie rooiwyn vir hartgesondheid en selfs die voorkoming van kanker is al bewys. Tog is medici steeds versigtig om aan te beveel dat wyn deel van ’n gesonde eetpatroon moet wees. Dis hoofsaaklik as gevolg van die alkohol-inhoud. Daar is boonop ander maniere om antioksidante by jou dieet te voeg. Resveratrol, een van die gesondheid-“eliksers” in rooiwyn, kom bv. ook in druiwe en rooi druiwesap voor. As jy saans wyn wil drink, hou by die riglyne van die Mediterreense dieet. Die matige gebruik van alkohol, hoofsaaklik tydens maaltye, is deel van dié kultuur.
Vir vroue is dit ’n maksimum van 1 – 2 porsies per dag en vir mans is dit 2 – 3 porsies. ’n Porsie is sowat 125 – 150 ml wyn, na gelang van die alkoholinhoud. Voel jy miserabel sonder jou glasie wyn, maar jy wil gewig verloor, moet jy sorg dat jy jou drankie verdien. Dus: Oefen gereeld en eet genoeg groente en onverfynde kosse. Maak ook seker jy eet gehalte-proteïene (vis/vleis/ bone). Alkohol beïnvloed die opname van heelwat voedingstowwe. As jy twyfel of jy gesond genoeg eet, koop ’n omvattende multivitamien-en-mineraal-aanvulling met magnesium.
Hier’s ’n wenk vir daai botter in jou yskas:
Hoe kan ek botter beter en sagter maak?
Die volgende eenvoudige mengsel het die smaak van regte botter en daar sal boonop altyd sagte botter in die yskas wees. Die vetprofiel (plantaardig vs. versadigde vette) is ook meer gebalanseerd.
BESTANDDELE
200 g botter (sag)
90 ml olyfolie
¼ teelepel grofgemaalde sout
METODE
Gebruik ’n versapper/handmenger en meng die botter en olie. Voeg die olyfolie stadig by, en dan sout na smaak. Gooi die ietwat loperige mengsel in ’n bakkie en verkoel. Gebruik dit pleks van botter of margarien as jy kook, buiten as dit by baie hoë temperature is, soos wanneer jy vleis verbruin. Gebruik dan liefs kokosneut- of druiwepitolie met ’n hoër rookpunt. (Rookpunt is die temperatuur waarby die olie begin “afbreek” in giftige byprodukte.)
Kry jou Desember-uitgawe van SARIE vir nóg slim dieetwenke van Mariza. Dit is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar kan HIER digitaal afgelaai word.
In jou Januarie-uitgawe van SARIE: Gesonde (en lekker!) drankies – kry dit nou!
The post Hier’s ’n wenk: Eet soos die Franse! appeared first on SARIE.