Moenie dat hoofpyn jou somerpret bederf nie.
Somer! Lang, luilekker naweke en vakansiedae waar jy kan swem, piekniek hou en in die son baljaar. Maar soos dit warmer word, vergroot jou kanse op hoofpyn. As jy maklik een kry, is die somer waarskynlik ’n tyd van pyn en ongemak. Want hitte kan ’n sneller vir hoofpyn wees.
Navorsers aan die Harvard-universiteit het hospitaalrekords ontleed en bevind met elke 5 ºC wat die temperatuur styg, besoek sowat 8% meer mense hospitale weens swaar hoofpyne. Hitte laat die bloedvate in jou kop swel. Dit druk dan teen die omringende senuwee-eindpunte en maak dit baie sensitief. Selfs normale bloedvloei voel dan soos ’n drilboor deur jou skedel, sê dr. Elliot Shevel, voorsitter van die Suid Afrikaanse Hoofpynvereniging. Hoofpyn is ook die nommereen- klagte waarmee mense wêreldwyd by hul dokter aanklop. Maar jy hoef nie daarmee saam te leef nie. Jy kan die kloppende pyn stop en die pret op die strand voortsit. Hy vertel hoe.
1. Ontwatering
Dis warm, jy sweet en jou mond is droog. Ontwatering (dehidrasie) is ’n algemene sneller vir hoofpyn. Jou brein bestaan uit sowat 75% vloeistof en is baie sensitief vir die voorraad water tot sy beskikking. As dit min is, vervaardig jou brein histamien. Dit is ’n noodsaaklike proses om vloeistof te spaar, ingeval jou brein ’n ruk lank daarsonder moet klaarkom. Die histamien veroorsaak pyn en moegheid. Dus hoofpyn en ook die lae energievlakke wat gewoonlik daarmee saamgaan.
Keer dit: Drink genoeg water, selfs al is jy nie regtig dors nie. Verkieslik nie gaskoeldrank nie, omdat dit dikwels stowwe bevat wat hoofpyn kan veroorsaak, soos kafeïen en aspartaam. Probeer ook ander hoofpyn-snellers vermy, bv. as jou liggaam vog terughou. (Redes: PMS, ’n gebrek aan oefening, kos met baie sout en medisyne met onder meer aspirien en ibuprofen). Daar is dan waarskynlik meer drukking op die slagare of spiere. Ook moegheid en min slaap.
2. Skerp reuke
Die trigeminale senuwee, verantwoordelik vir sensasies in jou gesig, het verlengings in die neusvoering. Dié senuwee kan stowwe vrystel wat jou hoofpyn gee as jy iets ruik wat jou liggaam as skadelik eien.
Keer dit: As jy sensitief is vir reuke, lekker of sleg, hou dit in gedagte as jy sonbrandroom, insekweerders en ander somer-benodigdhede koop. Koop produkte wat reukloos is en vra jou apteker se hulp, indien nodig. Vermy ook gegeurde skoonmaakmiddels, seep en kerse – en bly uit winkels wat daarna ruik.
3. Donderweer
Jy het nie eens nodig om na die weerbulletin te kyk nie. Jy kan voorspel daar gaan ’n donderstorm wees weens die geklop teen jou slape. Blameer die barometriese druk (die digtheid van die lug in die atmosfeer), wat voor sulke storms val. Dit kan ook wees weens die elektromagnetiese golwe wat weerlig uitstraal. Weerlig vermeerder ook lugbesoedelaars soos osoon en kan veroorsaak dat swamspore vrygestel word. Volgens navorsing in die aanlyn-uitgawe van die joernaal Cephalalgia vergroot ’n chroniese lyer se kans met 31% om hoofpyn te kry wanneer weerlig binne 40 km van hom slaan, en op migraine met 28%. Selfs al kry jy nie gereeld hoofpyn nie, vergroot jou kans met 24%.
Keer dit: Doen ’n ligte vorm van oefening, soos joga. Fisieke aktiwiteit stimuleer die vrystelling van endorfien, jou liggaam se natuurlike pynstiller.
4. Stres
Die familie vir wie jy moet regstaan, jy en jou man wat skielik pal in mekaar se geselskap is … Daar is baie dinge wat jou gedurende vakansies kan laat stres. Stres is die oorsaak van sowat 80% van migraine-aanvalle, volgens ’n studie in Cephalalgia, ’n hoofpyn-joernaal. Dit veroorsaak veranderinge in die vlakke van kortisol en adrenalien (die streshormone betrokke by die veg-of-vlug-reaksie), wat pyn en naarheid tot gevolg kan hê. Stres kan ook veroorsaak dat jy jou kakebeen saamklem en jou nekspiere saamtrek, wat jou ’n spanningshoofpyn kan gee.
Keer dit: Beplan vooraf vir vakansies en kuiers. Maak lysies. As jy kook, sorg dat daar genoeg is om te vries. Laat jou motor vooraf diens, delegeer takies aan gesinslede en doen besprekings vroegtydig. En as stres jou gereeld ry: Probeer ontspanningstegnieke soos meditasie, diep asemhalings-oefening, joga of gereelde masserings.
5. Fel sonskyn
Jy het jou skaars op jou strandhanddoek tuisgemaak of jy het ’n drukkende hoofpyn. Fel sonlig kan jou hoofpyn gee. Liggolwe reflekteer op gladde oppervlakke, soos water en sand. Baie hoofpyn- en migrainelyers is sensitief daarvoor.
Keer dit: Dra ’n sonbril met gepolariseerde lense vir beskerming. Die meerderheid lig word horisontaal gereflekteer en dié lense het vertikale filters wat horisontale golflengtes blokkeer. ’n Hoed kan ook help.
6. Jy eet die verkeerde kos – of nie genoeg nie
Pasop vir kosse met die aminosure tiramien (soos rooiwyn en verouderde kaas) en fenielalanien (sjokolade). Ook vir nitrate, wat as preserveermiddel in onder meer hotdogs en geprosesseerde vleis gebruik word. Dit laat die bloedvate in jou kop saamtrek en uitsit, wat migraine kan veroorsaak. Alkohol vererger dit, veral wyn met baie tannien en sulfaat. As jy maaltye oorslaan, kan dit jou ook hoofpyn gee. Jou brein is baie sensitief vir bloedsuikervlakke wat wissel.
Keer dit: Eet gereeld en drink gereeld water. Stel vas watter kosse jou hoofpyn gee en sny dit uit jou dieet.
7. Roomys
Jy sou dit nie kon raai nie. Maar die “roomys”- hoofpyn is dalk die algemeenste sneller vir somer-hoofpyn. Die sondaars is koue drankies of kos. Dit gebeur as iets kouds aan die senuwees in jou verhemelte raak. Bloedvate aan die voorkant van jou kop trek saam – en veroorsaak pyn.
Keer dit: Dis maklik: vermy dít wat dit veroorsaak. Of eet/drink dit stadig en in kleiner happies, dan kan dit vinniger in jou mond warm word. Laat so ’n hoofpyn gouer verdwyn deur met jou tong teen jou verhemelte te druk.
8. Allergieë
Dis nie net in die lente wat stuifmeel jou laat nies en miserabel laat voel nie. Daar is landwyd gras wat van September tot April bestuif word – ’n moontlike oorsaak van allergiese rinitis (hooikoors). Stof en huismyte is ook altyd met ons. Sinuskongestie en hoofpyn is alte dikwels die gevolg daarvan.
Keer dit: As jy gereeld allergiese rinitis kry, besoek ’n allergie-spesialis om te bepaal waarvoor jy allergies is.
SOS
Gaan dokter toe as jy koors en nekpyn het, of as die pyn toenemend erger word. Ook as jy nou pal hoofpyn het, maar dit nie voorheen ’n probleem was nie, jy gereeld pynpille moet drink en dit jou leefstyl beïnvloed.
KONTAK: Dr. Shevel: www.headacheclinic.co.za
Dié inligiting kom uit ons Januarie 2014-uitgawe. Kry jou nuutste SARIE en lees meer oor:
- Kollageen: Jonk-wees in ’n glas
- Tot siens sukses: 2 sakevroue sê hoe en waarom
- Denim vir somer
- WEN ’n Mauritius-vakansie!
The post 8 oorsake van jou somer-hoofpyn appeared first on SARIE.