Beslis dié groot lewensredder, vir sowat 70 jaar al. Maar te veel van ’n goeie ding het altyd sy nadele – toenemende gebruik veroorsaak dat al hoe meer kieme bestand is teen antibiotika.
Elke keer dat jy antibiotika gebruik, vergroot jou risiko vir weerstand daarteen. Boonop kan jy dit na jou familie en vriende oordra.
Bakterieë verander naamlik so dat antibiotika later nie meer teen infeksies werk nie. En dis ’n groot bedreiging vir openbare gesondheid, sê dr. Sean Wasserman, afdeling aansteeklike siektes en MIV-medisyne, Universiteit van Kaapstad (UK).
Antibiotika-weerstandigheid: Werk dit só teë
Klop virusse
Jy gaan dikwels dokter toe as jy reeds besig is om van ’n virus-infeksie te herstel. En glo dan dis die antibiotika wat jou beter laat voel. Jy kan lank die simptome van ’n virus- lugweginfeksie hê (tot drie weke met akute bronchitis). Groen of geel slym en neus- afskeiding is dan algemeen, verduidelik dr. Wasserman. Rus en neem baie vloeistowwe in. ’n Verkoue of griep neem meestal binne 48 uur sy loop.
Die goeie ouens
Jy het miljoene “goeie” bakterieë in jou liggaam, noodsaaklik vir jou gesondheid en waarmee jy in harmonie saamleef. Dit help onder meer met die vertering van kos, beveg siektekieme en hou jou immuniteit in stand. Elke keer dat jy antibiotika gebruik, veral dié met ’n breë spektrum, ontwrig dit die “goeie goggas” se werking. Dit kan die goeie flora tot 24 maande neem om van ’n enkele voorskrif antibiotika te herstel, volgens prof. Patrick Bouic, immunoloog aan die Universiteit Stellenbosch. Die weerstandige bakterieë kan dominant raak (die goeie goggas is minder of vernietig) en jou gesondheid in die toekoms benadeel, sê dr. Wasserman.
Vra jou dokter
Hoekom het jy antibiotika nodig? Is daar dalk ’n doeltreffende nouerspektrum-keuse? Dokters moet ook tyd afstaan om aan pasiënte te verduidelik waarom antibiotika onnodig is en dit met volgende besoeke herhaal.
Jyself
1) Wees bewus van die probleem en implikasies; dat dit ’n direkte gevolg van die verkeerde gebruik van antibiotika is.
2) Moenie antibiotika vir griep/ verkoue drink nie. Vra jou apteker vir oor-die-toonbank-medisyne wat jou simptome kan verlig.
3) Vermy diereprodukte wat antibiotika as groei-aanvulling gekry het en pas druk op die owerhede toe om die gebruik te staak.
4) As jou kinders ten volle ingeënt is, beskerm dit hulle teen bakteriële infeksies.
5) Volg die aanwysings: As dit sê drink drie maal per dag, vyf dae lank, doen dit.
6) ’n Gesonde leefstyl kan help om jou immuniteit te ondersteun en versterk, wat jou minder vatbaar vir siektes maak.
Bronne: Dr. Sean Wasserman, Universiteit van Kaapstad (UK) en prof. Patrick Bouic, immunoloog aan die Universiteit Stellenbosch
Lees nou
The post Antibiotika – Die donker kant appeared first on SARIE.