Dis weer die tyd van die jaar dat dié virus jou kan plattrek, sorg dus dat jy jou kant bring om gesond te bly. En moenie jou steur aan al dié mites nie.
MITE 1 – Antibiotika kan dit beveg
Antibiotika help teen bakterieë, maar behandel nie ’n virus-infeksie soos griep nie. Jy kan wel ’n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel as griepkomplikasie, soos ’n oorinfeksie, bronchitis, sinusitis of longontsteking. Gaan dokter toe as jou griepsimptome vererger of voortsleep.
MITE 2 – Die inspuiting kan jou griep gee
Griepinspuitings bevat net dooie virusse wat jou nie kan besmet nie. Daar is twee redes waarom die mite voortduur: Die inspuiting is veronderstel om jou immuniteit te stimuleer. Soms kan dit jou verbygaande simptome gee, soos laegraadse koors. Dit wys die entstof werk. Die simptome is ligter as met griep. Of jy word siek, maar dis weens ’n verkoue-virus wat niks met die inspuiting te doen het nie.
MITE 3 – Koue weer maak jou siek!
Daar is nie ’n verband nie, al lyk dit so. Die griepseisoen val immers saam met die kouer maande van die jaar, maar die toename in gevalle het meer te doen met die virus se natuurlike siklus. Kenners is nie seker presies hoe dit werk nie, maar daar is een manier hoe kouer weer wel jou risiko vir griep kan verhoog: Jy kom meer in kontak met ander mense omdat ons almal binnenshuis vasgekeer is. Die virus versprei dan makliker.
MITE 4 – As jy griep gehad het, kan jy dit nie weer dieselfde seisoen kry nie
Jy kan griep van meer as een virus-stam kry. In enige griepseisoen is daar gewoonlik ’n tipe A- en B-griep in die omtrek. Dis moontlik dat eers die een en dan die ander jou plattrek.
MITE 5 – Hoendersop laat jou gouer herstel
Warm vloeistowwe kan jou seer keel lawe en gee jou liggaam broodnodige vloeistof. Maar hoendersop het nie spesiale eienskappe wat jou gouer laat gesond word nie.
Lees nou
Atiesjoe! Griep of verkoue? Ken jou simptome
Maklik! Tem verkoue en griep só
The post 5 mites oor griep appeared first on SARIE.