Die winter is op ons. En dit beteken net twee dinge: laag-op-laag-klere en wintervet. Of ons nou daarvan hou of nie, kom die koue, eet ons sommer meer. Die wyses sê mos hoeka jou bikini-lyf word in die winter gemaak!
Maklike oefeninge vir fermer arms.
GEBOË TRISEPSVERLENGING
Staan met jou voete skouerwydte uitmekaar, bene effens gebuig en leun effens
vooroor. Hou ’n handgewig in elke hand. Buig jou elmboë sodat die bo-arms parallel met die vloer is.(Begin-posisie.)
Maak jou arms stadig reguit voor jou. Buig jou elmboë weer en keer na die beginposisie terug. Herhaal.
OORHOOFSE TRISEPS-VERLENGING
Staan met jou voete skouerwydte uitmekaar. Hou die steel van ’n handgewig (middelste deel) met albei hande vas. Lig jou arms bokant jou kop. (Begin-posisie.)
Laat sak jou arms agter jou kop totdat jou elmboë na die plafon wys. Maak jou arms nou stadig weer reguit terwyl jy jou bo-arms naby jou kop hou. Herhaal.
TRISEPS-OPSTOTE
Met jou rug na ’n trappie of bankie, plaas jou handpalms op die kant. Hou jou arms reguit en strek jou bene voor jou uit. As jy dit makliker wil maak, kan jy jou bene teen ’n hoek van 45° of 90° buig. (Begin-posisie.)
Buig jou arms en laat jouself stadig sak. Hou jou rug so na aan die trappie as moontlik. Gebruik jou arms en keer na die oorspronklike posisie terug. Doen 2 stelle van 15 herhalings elk.
KNAK-LOPIES
Ondersteun jou bolyf met jou hande agter jou op ’n trappie of bankie, bene teen ’n hoek van 90° gebuig en arms effens gebuig. (Begin-posisie.) Lig een hand van die bankie en die teenoorgestelde voet van die vloer af op. (Hou arms heeltyd effens gebuig.) Doen dit nou met die ander hand en voet.
Hou aan om jou hande en voete om die beurt te verwissel, asof jy loop. (As
dit vir jou te maklik is, maak jou been reguit en bring jou arm 90° vorentoe.)
Doen 1 stel van 20. Jy kan begin met 10 as dit aanvanklik te moeilik is.
DRIEHOEK-OPSTOTE
Lê plat op jou maag op die vloer. Plaas jou hande onder jou bors met jou duime
en voorvingers teenmekaar sodat dit ’n driehoek vorm. Stoot jouself op deur jou arms reguit te maak en stut jouself met jou knieë of as jy fikser is met jou voete. (Begin-posisie.)
Hou jou maagspiere styf en jou rug reguit en sak stadig met jou bolyf tot net bokant die vloer deur jou arms te buig. Stoot jouself weer stadig op deur jou arms reguit te maak. (Maar sonder om jou elmboog-gewrig te sluit.) Doen 2 stelle van 15 herhalings elk.
The post Oefeninge vir fermer arms appeared first on SARIE.