Vandag is Bipolêre Bewustheidsdag om die aandag te vestig op dié siekte wat miljoene mense wêreldwyd raak. Mans, vroue, tieners. Bekendes en onbekendes. Mense soos Amanda Strydom en Jan Blohm het al oor hul eie bipolariteit gepraat; ook die Hollywood-aktrise Catherine Zeta-Jones.
Vir die lyers – en hul geliefdes – is dit dikwels ’n emosionele pad van onsekerheid en vrees. Tog is daar ’n anderkant uit.
Dilemma: Hoe weet ek my tiener is bipolêr?
SARIE-leser skryf:
My tiener se gedrag is deesdae so vreemd dat ek nie meer weet of dit normale adolessensie is nie. Sy lê ure lank in haar bed en weier om op te staan. Sy kry ook onbeheersde woedebuie en het verlede week selfs haar jonger sussie se selfoon stukkend gegooi. My man moes ook onlangs vieruur in die oggend 50 km ver ry om haar by vriende se strandhuis te gaan haal: die ma het gebel dat my kind soveel gedrink het dat sy meubels begin breek het. Ons gesin leef in vrees vir wat sy volgende gaan aanvang. Ek het haar met ‘n groot gesukkel tot by ons huisdokter gebring, maar hy het net ligte antidepressante voorgeskryf. Dit was ’n maand gelede, en ek sien geen verandering in haar onvoorspelbare buierigheid nie. Ek het onlangs ’n artikel gelees oor bipolariteit, en vrees nou dat sy dalk dié toestand het.
Prof. Angelo Lasich, ’n Durbanse psigiater, sê:
Bipolêre gemoedsteurnis kan op enige ouderdom voorkom en is al selfs in kinders van net vyf jaar oud gediagnoseer. Dit is ’n chemiese wanbalans in die brein en veroorsaak dat fases van depressie, gevolg deur intense gelukkigheid of maniese optrede, om die beurt voorkom.
Die simptome verskil in kinders, tieners en volwassenes. Tieners is geneig om eerder fases van irritasie, woede en roekeloosheid as geluk te ervaar, maar albei kan voorkom.
Bipolêre gemoedsteurnis het van dieselfde simptome as aandagafleibaarheidsindroom en ander gemoedsteurnisse, maar in bipolariteit sal die depressiewe- en maniese fases vir een of twee weke op ’n slag aanhou.
Dis belangrik om jou instink te vertrou, sê hy. As jou kind skielik vreemd begin optree, of sy “normale” tiener-buierigheid meer intens word en jy die volgende simptome gewaar, moet jy hom/ haar na ’n dokter neem:
• Depressie, of optrede wat dit masker, soos rook of drank- en dwelmmisbruik
• ’n Afname of toename in eetlus
• Apatie teenoor aktiwiteite wat voorheen genotvol was
• Ongewone slaappatrone, hetsy ’n toename of afname in slaap, of moegheid
• Lae motivering om skool- en ander take te verrig, of ’n intense, maniese fokus daarop
• Irritasie, woede, of ’n geneigdheid om ander te boelie
• Angstigheid, of ’n gevoel dat sy/haar gedagtes deurmekaar is of weghardloop
• Onttrekking van familie en vriende
• Impulsiwiteit of roekeloosheid, en die neiging om hom-/haarself te vergryp aan dinge
• Wanneer die diagnose van bipolariteit gemaak is, moet jy lees oor die steurnis, en jou kind leer wat dit is. Dit help hom/haar én jou om te verstaan hoekom hy/sy so voel.
• Moenie dink jou kind is lui, stout of sleg nie, en moenie toelaat dat ander mense jou só laat dink nie. Dit is ’n chemiese siekte in die brein wat simptome in jou kind se gedrag veroorsaak, nes enige siekte simptome het. Ek het al te veel ouers gesien wat wonder of hul kind besete is, wat dinge net vererger.
WAT KAN JY DOEN?
Hoor wat sê ’n Durbanse ma, Lee Gomes, in ’n SARIE-artikel (Maart 2014) nadat bipolêre gemoedsteurnis by haar tienerdogter gediagnoseer is.
• Vertrou jou instink. Die meeste bipolêre kinders se ma’s (nie pa’s of onderwysers nie), kry uiteindelik vir hul kind ’n diagnose omdat hulle diep binne wéét iets is fout.
• Kry die regte psigiater en sielkundige. Soek iemand wat saam met julle wil werk, en nie op jou neerpraat en vir julle sê wat om te doen nie. Dit neem tyd en moeite.
• Onthou dit kan ’n ruk neem om die regte medikasie te kry en ook om die hoeveelhede te reguleer om ’n balans te vind. Dit is ’n aanhoudende verstel-proses.
• Oorweeg dit om self ook ’n sielkundige of ’n ondersteuningsgroep te besoek, of groepsterapie vir julle as gesin, want die siekte is ’n swaar emosionele las op die hele gesin.
HULP NOU VIR JOU
SADAG (die SA Depressie-en-angsgroep) se inbelsentrum bied krisisintervensie, berading en ondersteuning. Skakel 0800 70 80 90 of gaan na www.sadag.org
Is jy op Twitter? Praat vanaand tussen 18:00 en 19:00 saam met beraders. Gaan na www.tweetchat.com, gebruik hutsmerk #bipolarchat en twiet saam.
Vir meer inligting, bel Sam by 011 234 4837.
Op Facebook: Klik op “Message” op SADAG se Facebook om met hulle te gesels op Vrydag 27 Mei 2016. Daar sal twee geleenthede wees om kenners oor die toestand uit te vra. Om 13:00 is dr. Duncan Rodseth van die Donald Gordon Mediese Sentrum aan die beurt. En om 19:00 dr. Mike West van die Akeso-kliniek in Milnerton.
Lees nou
Moet ek my baas vertel ek is bipolêr?
‘Ek’s besig om my greep te verloor’ – joernalis se storie
The post Dilemma: Hoe weet ek my tiener is bipolêr? appeared first on SARIE.