Vandag is Bipolêre Bewustheidsdag om die aandag te vestig op dié siekte wat miljoene mense wêreldwyd raak. Mans, vroue, tieners. Bekendes en onbekendes. Mense soos Amanda Strydom en Jan Blohm het al oor hul eie bipolariteit gepraat; ook die Hollywood-aktrise Catherine Zeta-Jones.
Vir die lyers – en hul geliefdes – is dit dikwels ’n emosionele pad van onsekerheid en vrees. Tog is daar ’n anderkant uit.
Dilemma: Moet ek my baas vertel ek is bipolêr?
SARIE-leser skryf:
Ek is gediagnoseer met bipolêre gemoedsteurnis. Toe ek aansoek gedoen het om my werk, het ek my baas nie vertel nie. Ek was bang dit sou my kanse om die pos te kry beduiwel en ek wou nie my private sake uitlap nie. Ek sou oop kaarte speel as dit nodig sou word. Dit beïnvloed wél my produktiwiteit omdat dit soms gebeur dat ek weens ’n insinking ’n paar weke of selfs maande nie voluit kan werk nie of gehospitaliseer word. Hoe behoort ek dit te hanteer?
Pieter Human, direkteur van ’n arbeidsadviesdiens, antwoord:
Psigiatriese siektes moet omsigtig hanteer word en werkgewers moet baie versigtig wees om nie werknemers wat hieraan ly te stigmatiseer nie. Speel oop kaarte met jou base. Dít sal verseker indien jou siekte jou werk sou beïnvloed, hulle meer empaties sal optree. Jy is nie verplig om in jou onderhoud jou siekte te verklaar nie. Sou hy jou egter dirék vra of jy aan ’n mediese toestand ly wat jou produktiwiteit mag beïnvloed en jy verswyg dit of antwoord misleidend (en dit blyk later), kan jou dienste later beëindig word. Jy mag wél aandring dat dié inligting vertroulik gehou word.
Jou baas moet bipolariteit soos enige ander siekte hanteer. In uiterste gevalle, as hy kan bewys dat dit jou werk só beïnvloed dat jy té veel werk mis weens siekteverlof, kan hy jou dienste beëindig weens mediese ongeskiktheid.
Dis ’n taamlik omslagtige prosedure. Daar moet genoeg rede (bekend as “substantiewe billikheid”) wees om jou af te dank. Hy moet kan bewys dat jou toestand jou werk só beïnvloed dat jy dit nie meer behoorlik kan doen nie. Een van die eerste stappe is dat jou werkgewer ’n brief van jou psigiater kry wat bevestig dat jou toestand permanent is. As jy voel jy is onbillik behandel, kan jy die saak binne dertig dae ná diensbeëindiging na die dispuutresolusieforum van die CCMA verwys.
As jy voel daar is teen jou gediskrimineer weens jou toestand, kan die saak na die Arbeidshof verwys word. Indien jou baas omstandighede só moeilik vir jou maak dat jy geen keuse het as om te bedank nie, kan jy dit na die CCMA verwys op grond van “konstruktiewe ontslag”. Dié sake is egter moeilik om te bewys, want die bewyslas is op jou.
HULP NOU VIR JOU
SADAG (die SA Depressie-en-angsgroep) se inbelsentrum bied krisisintervensie, berading en ondersteuning. Skakel 0800 70 80 90 of gaan na www.sadag.org
Is jy op Twitter? Praat vanaand tussen 18:00 en 19:00 saam met beraders. Gaan na www.tweetchat.com, gebruik hutsmerk #bipolarchat en twiet saam.
Vir meer inligting, bel Sam by 011 234 4837.
Op Facebook: Klik op “Message” op SADAG se Facebook om met hulle te gesels op Vrydag 27 Mei 2016. Daar sal twee geleenthede wees om kenners oor die toestand uit te vra. Om 13:00 is dr. Duncan Rodseth van die Donald Gordon Mediese Sentrum aan die beurt. En om 19:00 dr. Mike West van die Akeso-kliniek in Milnerton.
The post Moet ek my baas vertel ek is bipolêr? appeared first on SARIE.